Deur : Skriba  /  August 16th, 2015

Wintertyd

“Nou lê die aarde nagtelang en week

in die donker stil genade van die reën” – NP van Wyk Louw

 

Ja, dit is winter in die Boland. ‘n Tyd van slierte koue reën wat die dorp dae lank in ‘n vaal miskombers toevou en ‘n geniepsige yswind wat almal na binne dryf. Dit is ook ‘n tyd van ‘n ysige spierwit sneeulaag oor die grys berge wat ons dorp bakarm omvou. Berge met kranse en klowe en lang, diep skaduwees

 

Vir baie is dit ‘n tyd van gesellig saamkuier om kaggelvure met warm trooskos en dalk ‘n glasie rooiwyn. Die kosbaarheid van samesyn met geliefdes en vriende bring ‘n spesiale soort warmte. Wintertyd is ook ‘n tyd van diep gesels (waar die TV nie die septer swaai nie), ‘n tyd vir boeke lees en dik, snoesige komberse. Vir baie ook ‘n tyd van inkeer, van stil word.

 

Maar in baie huise heers daar ook die winter van die hart waar ‘n plek leeg is, ‘n stem stil en net voetspore en herinneringe die koue huis vul. Dit is in hier- die huise waar die warmte van opregte omgee, stille begrip en ‘n drukkie (soms sommer sonder woorde) soos balsem is vir die diep seer van alleen agterbly. Daardie oomblik van staan in die skoene van hulle wat treur met die lang en steil pad van genesing en heelword wat voorlê.

 

Dit is egter ‘n wet van die natuur: na winter kom lente. En as ons hier in Augustus fyn kyk, sien ons die belofte van eerste groen botsels aan die stamme van bome en struike. Ook begin die grys berge om weer geleidelik daglank te kommunikeer in skakerings van sagte blou, pers en pienk.

 

Die vaste ritme van opeenvolgende seisoene hou vir hulle wat treur ‘n goddelike boodskap in: na winter volg lente ….. al voel die winter langer en kouer as gewoonlik.

 

In die Nuus