Deur : Skriba  /  March 13th, 2016

UIT DIE PEN VAN `N VROU
Ek luister nou die dag vir die soveelste keer na ‘n verdoemende nuusbulletin oor die motorradio. Die droogte en waterkrisis is besig om ons land te knak. Boonop was ons president se staatsrede ‘n fiasko en is ons landsleiers meer in die hooggeregshof as in hul kantore. My moed sak in my skoene. Niemand is meer lus vir die sirkus nie.
Na die nuusbulletin speel die omroeper Man in the mirror van Michael Jackson. Ek kyk vir myself in my motor se tru-spieëltjie – en die woorde tref my.
I’ve been a victim of a selfish kind of love. Who am I to be blind, pretending not to see. If you wanna make the world a better place, take a look at yourself and make a change.
So eenvoudig, maar tog so moeilik. Ons het so gewoond geraak daaraan om na ons binnekamers, sosiale media, braaivleisvure en gebedsgroepies te hardloop as ons ‘n probleem op die horison gewaar. So het ons die kuns vervolmaak om op ‘n probleem te broei, oor hom te bid of al rondom hom te hardloop sonder om werklik ‘n oplossing te kry.
Wat sou gebeur as ons ná die probleem toe gaan en iets daaraan dóén – al is dit ook hoe klein? Dalk kan elkeen wegkap aan korrupsie deur seker te maak dat sy eie huis, werksplek en lewe heeltemal skoon is van enige vorm daarvan. Miskien sou rassisme en ongelykheid beter word as elkeen ophou oordeel, alle mense met menswaardigheid behandel, groet en ons vriendelik is met selfs die minste tussen ons. As daar dors is, kan ons water aandra.

As daar honger is, help met kos.  As daar seer is, gee ‘n drukkie of luister.  Waar daar skeiding is, steek ‘n hand uit.  Kan die geloof van hierdie kerk relevant wees as verlossing net ‘n filosofie en nie sigbare dade is nie?

Almal se klein bietjies probeer, kan saam ‘n groot verskil maak.

I’m starting with the man in the mirror.

In die Nuus