GEBEDSBULLETIN – WEEK VAN 12 JUNIE 2016

Deur : Skriba  /  June 3rd, 2016

Maandag:  Siekes in die gemeente

Ons dra elke huis waar daar kommer heers oor ‘n geliefde wat ernstig siek is op aan die GROOT GENESER. Ons bid vir genesing en verligting van pyn. Gal. 6:19 “…..en hoe geweldig groot Sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo.  Dit is dieselfde kragtige werking van Sy mag wat Hy uitgeoefen het toe hy Christus uit die dood opgewek het.”

 

Dinsdag: Die uitreik na die Middelburg-gemeente.

Ons bid dat die uitreik na hierdie gemeente spesiaal geseën mag word.  Dat geloofsbande versterk word en dat nood in daardie gemeente verlig word.  Kor. 1 : 4 ”In elke moeilikheid help Hy ons. Daarom kan ons ook weer ander help wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig.”

 

Woensdag: Die knellende droogte in die Wes-Kaap.

“Dit word allerweë beskou as die ergste droogte in 75 jaar. Landboukenners glo dat Suid-Afrika op die drumpel staan van ‘n  humanitêre krisis”. (Die Burger, 3 Feb. 2016.  Ons bid dus vir ‘n wonderwerk en groot genade.  Ps. 46:11  “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde”  Lukas 1:37 “Niks is vir God onmoontlik nie”

 

Donderdag: Die algehele morele verval en toenemende geweld in ons land.

Die koerante basuin dit daagliks uit. Nog voorbeelde van korrupsie, nog voorbeelde van onskuldige mense wat wreed aangerand en vermoor word. Die gevolg is dat die rooi ligte flikker oor ons wankelende ekonomie en die donker wolk van rommelstatus wat oor ons eens mooi land hang. Ons verootmoedig ons en bid dat God ons leiers op alle vlakke se harte aanraak en verander. Dat Satan se mag verbreek word. Dat ons almagtige Vader weer ons stukkende land mag herstel en seën.

Ps. 55: 12 “ Daar heers wanorde in die stad, op sy pleine is daar net verdrukking en bedrog.”

 

Vrydag: Ons fokus op ons dorp, Wellington, wat toenemend geteister word deur inbrake en geweld.

Ons neem met groot kommer kennis van die toenemende vlaag van inbrake en geweld in ons mooi dorp, veral ook in Wellington-Oos-gemeente. Ons mag egter nie toelaat dat kommer en angs ons gemoed verdonker nie.  Ons bid vir ons polisie, ons bid teen toenemende armoede en werkloosheid in ons dorp en ons bid vir beskerming teen die bose.

Jesaja 30:15 “Julle krag lê in stil wees en vertroue hê.”

 

Saterdag: Die dreigende waarstuwings teen terreur in veral Kaapstad en Johanesburg.

Doe hoofopskrif in die Burger van Dinsdag , 7 Junie, vul ons harte met angs: “Waarskuwings teen terreur baie ernstig” So waarsku Engeland en Amerika. Tot dusver was hierdie tipe aanvalle beperk tot ander lande ver van ons af, maar skielik is dit op ons voorstoep. Ons bid ernstig dat ons almagtige God beheer oorneem. Ons mag nooit die krag van gebed onderskat nie. Ons mag eenvoudig net nie toegee aan die koue vrees wat dreig om ons te verlam nie.  Ps. 27:14 “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here.”

In die Nuus