Deur : Skriba / September 25th, 2016
“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word”. Matt. 5:9
Sondag: Verootmoediging: In ons bestudering van die Bergpredikasie hoor ons gereeld van die mens se verhouding tot God en onderling. Spr. 17: 9 stel dit so: “Wie ’n verkeerde optrede teenoor homself verontagsaam, soek goeie verhoudinge”. Dink daaroor na in u verootmoediging.
Maandag: Die Bybelgenootskap het ten doel om Bybels bekostigbaar beskikbaar te maak,” sodat elkeen die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar”. Bid asb. dat die Here bybelvertalers sal seën met wysheid en fondse beskikbaar sal maak om die belangrike werk te doen. “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond..”. Ps. 119:103
Dinsdag: Huis Andrew Murray: Hier kry wetstoegewysde kinders geleenthede wat hul nie by die ouershuis sou gehad het nie. Bid asb. vir die bestuur, personeel en leerders dat hul voortdurend die teenwoordigheid van die Here in hul wandel en werk sal ervaar. “Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom. Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra”. Klaagl. 3:24 en 25.
Woensdag: Jongmense: Dit wil blyk dat ons kerkbywoning taan en veral ons jongmense en leerders is afwesig by die eredienste. Kom ons vra die Here om ’n honger en dors na sy woord by al ons mense te skep sodat ons die eredienste as soekendes sal bywoon . “Ek soek U, o God, my God. Ek dors na U; ek smag na U, soos in ’n dor en droë land, ’n land sonder water”. Ps. 63 : 2
Donderdag: Gemeentefees: Ons is besig met die vooraf insameling vir die gemeentefees laat in Oktober. Vra die Here om ’n gunstige gesindheid in die harte van mense te bring sodat die inkomste die seën van die Here sal dra. “In sy eie oë is alles wat ’n mens doen, reg, maar die Here ondersoek die gesindheid”. Spr. 16:2
Vrydag: Geestelike Leiers: Ons bid dat die Here aan ons geestelike leiers begrip en ʼn fyn aanvoeling sal gee om in hierdie dae van twyfel deur baie met wysheid en insig die boodskap van Jesus te verkondig. “Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle voor die tyd gesê”. Markus 13:22
Saterdag: Lofprysing
Ons Skrifgebed kom uit Jer 14:22 “Is daar onder die nikswerd gode van die nasies een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee? Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen”.