Deur : Skriba / August 7th, 2017
Gebedsbulletin 6 Augustus 2017
“Sy dakkamer se venster het na Jerusalem se kant toe gekyk en soos sy gewoonte altyd was, het Daniel voortgegaan om driemaal per dag voor sy God te kniel en Hom te prys, te aanbid en te dank”. Dan 6:11
Sondag: Dankie, dat ons vreesloos kan aanbid: In ’n Noord-Afrika-land is ’n man se hand afgekap, in ’n ander sukkel ’n ma met kinders sonder inkomste, haar man is tronk toe oor sy geloof, in Sirië, Libanon, Indonesië, Soedan, word gelowiges gedreig, ontvoer, gemartel oor hul geloof. Begryp u die voorreg wat ons het? Dank die Here en bid vir hulle! “Julle sal ter wille van my Naam deur almal gehaat word, maar daar sal selfs nie eers ’n haar van julle kop val nie!” Luk. 21:17
Maandag: Boere wat saai en plant: Hulle kyk na die wolke en plant in geloof dat die opvolgreëns sal kom en dat daar ’n oes sal wees. Bid vir hulle goeie oeste toe, maar veral dat hulle (en ons) die geloof in Jesus Christus sal behou. “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie.” Jes. 7:9
Dinsdag: Damvlakke: Terwyl ons dankie sê vir die welkome reëns het damme nog nie juis water gevat nie. Vra die Here dat stortreëns in die opvanggebiede van damme sal val (veral in die Wes-Kaap). Ps. 33 verseker ons “Die Here sorg!”
Woensdag: Middelafhanklikheid: Ons bid vir alle persone wat met afhanklikheid worstel – hetsy dwelms, drank, nikotien, pornografie of a.g.v. chemise wanbalanse in hul gestel. Mag hulle vrede, sekuriteit en geborgenheid in Jesus Christus vind en mag Hy alle bande losmaak. “Vrede laat Ek vir julle na. Die vrede wat Ek julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Joh. 14:27
Donderdag: Bendes: Ds. Jan het Sondag verwys na die invloed en vrese wat Bendes in sekere gebiede in die Kaap skep. Hy het ook verwys na die mooi getuienis van gerehabiliteerde verslaafdes en hoe hulle jongmense help om uit die netwerk te ontkom. Ons vra dat die Here hulle oë sal oopmaak om gevare raak te sien, ondersteuning om dit te los en na Jesus te draai. “Vir die mens wat in gevaar verkeer is die Here ’n toevlug, ’n skuilplek in tye van nood”. Ps. 9:10
Vrydag: Geestelike leiers: Hulle steun op u volhardende gebed en put krag daaruit wanneer u vir hulle sê:” Ek bid vir jou”. Doen dit gereeld en bid vir hulle ’n gees van onderskeiding toe en ’n deernisvolle hart vir hulle wat soek na die waarheid. “U het my gebed verhoor! Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys”. Ps. 22:23
Saterdag: Lofprysing: Lees asseblief Ps. 23 stadig nadenkend en loof die Here vir hierdie juweel gedig deur ’n skrywer wat die Herder persoonlik geken het. Dink daaroor na en wees stil voor die Here.