Deur : Skriba / September 29th, 2017
Gebedsbulletin 1 Oktober 2017
Gen. 43:1 Die dilemma waarin die aartsvader hom bevind: “Maar dit was ’n kwaai hongersnood en toe die kos begin opraak wat die broers uit Egipte gebring het, sê hulle pa vir hulle: ‘Julle moet maar weer vir ons ’n bietjie kos gaan koop”.
Sondag: Verootmoediging: God het weer voorsien(uit Egipte), dink net hoeveel keer was Egipte vir God se mense ’n toevlug; vroeër het Abraham soontoe gegaan, toe Josef, toe Jakob en in die nuwe testament, Jesus as baba. God voorsien altyd ook aan u – wanneer en hoe? “Die Here sorg dat sy magtige dade nie vergeet word nie……… Hy voed die wat Hom dien, Hy hou sy verbond altyd in stand…Ps 111:4 en 5.
Maandag: Reën: Hoe het ons nie die 14mm van Maandag verlede week nie geniet nie! Die Wes-Kaapse damme staan nou op 35% en ons kan dankie sê vir wat ons ontvang het en vra dat in die opvanggebiede voldoende reën sal val. “My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het”. Ps. 121: 2
Dinsdag: Meksiko: Een van die lande wat erg getref is deur die onlangse storms. In landelike gebiede word Protestante Christene nie toegelaat om hul geliefdes in plaaslike begraafplase te begrawe nie. Bid asb. vir Christene wat deur vervolging geaffekteer word en vra vir wysheid en leiding hoe om die situasie te hanteer.”Ek het gedoen wat reg en regverdig is, moet my tog nie oorgee aan die genade van die wat my verontreg nie”. Ps. 119:121
Woensdag: Huis Andrew Murray: Hier kry kinders die geleenthede wat hul by hul ouerhuis nie kan kry nie. Daar is 12 “huise” , 150 kinders met 17 kinderversorgers, ’n span maatskaplike werkers, administratiewe en kombuis personeel en kundiges wat spesialis dienste lewer. Bid asb. vir elkeen wat betrokke is,Bid vir Huis Mopanie die “aanneem huis” van Wellington-Oos, vra wysheid en insig in die bestuur van die fasiliteit. Dank die Here vir bydraes van die Staat, individue en maatskappye om HAM suksesvol te bedryf. “Wie so ’n kindjie in my Naam ontvang, ontvang My”. Matt. 18:5
Donderdag: Arbeidsonrus/Dienste: Ons staan aan die vooraand van ’n landswye staking wat enorme ontwrigting tot gevolg sal hê. Sommige stakings is politiek gedrewe, ander deur swak of geen dienste en ander deur verkiesingsbeloftes wat nie nagekom word nie. Ongeag die redes, ons land kan die ontwrigting nie bekostig nie. Vra die Here om die situasie om te keer, dat mense verantwoordelikheid sal neem, dat werkers pligsgetrou hul taak sal uitvoer, dat vrede op arbeidsterrein sal kom. “Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare is tydelik en onsigbare ewig”. 2 Kor. 4:18
Vrydag: Geestelike leiers. Hierdie week bid ons vir hulle en hulle gesinne. Vra die Here om vir hulle vrede, blydskap en vreugde te gee en ʼn ervaring van sy teenwoordigheid dag vir dag. “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” Ps 139:5
Saterdag: Lofprysing “Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor ; dit is tot u eer dat ek sing. Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel. Ps 138:1