Deur : Skriba  /  October 23rd, 2017

Gebedsbulletin 22 Oktober 2017

“Maar daar kom dae, sê  die Here my God, dat Ek ’n honger oor die aarde laat kom; ’n honger nie na kos nie, ’n dors nie na water nie, maar om die woorde van die Here te hoor… “Amos 8:11

Sondag: Verootmoediging:       Miskien moet ons in die lig van die aanhefteks anders begin bid vir reën, miskien moet ons versigtig wees dat ons “dors” na reën nie die “dors” na die woord van die Here oorskadu nie?     Dink daaroor en bid daaroor.           “U voorskrifte is vir my ’n lied in my lewe hier op aarde” Ps. 119:54

Maandag: Reën: Die bulletin word gewoonlik Maandae saamgestel. Vanoggend in my stiltetyd lees ek Job 38:37 God vra vir Job “Wie het die kennis om genoeg wolke bymekaar te bring  om die waterkruike van die hemel om te keer…?” en ek bid ‘Here dis net U, wie anders? Ons het juis nou nodig dat die kruike omgekeer word’    So omtrent ’n uur daarna reën dit – Hy het lankal besluit dat dit moet reën, maar deur sy Woord bevestig Hy net, ‘Ek wil julle seën, vra net!’

Dinsdag: Die wat treur: Ons bid vir vertroosting vir elkeen wat hartseer is en treur oor ’n geliefde wat nie meer daar is nie – veral by die “eerstes” verjaardae, Kersfees, troudag ens.  Ons bid ‘Here, ons God, net U kan die leë plek vul, laat u vrede en berusting elke hart vul’. “Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word” Matt. 5:4

Woensdag: Gemeentefees: Ons dank die Here vir die dinge wat met spoed bymekaarkom en vra op hierdie stadium reeds vir ’n mooi dag en aangename weer. Vra vir blymoedigheid en eensgesindheid in die samewerking van gemeentelede en dat die Naam van die Here in alle pogings verheerlik sal word. “daar is ’n verskeidenheid van kragtige werkinge, maar dit is dieselfde God wat alles in almal tot stand bring” 1 Kor. 12:6

Donderdag:  Omgewing- en Afvalbestuur:  Suid-Afrika vermors nog elke jaar ongeveer R148 miljard  deur herwinbare materiaal op munisipale ashope te gooi. Positief: Ongeveer 51% van alle papier en verpakkingsmateriaal word reeds herwin, maar ons is nog vêr agter ander lande met die hergebruik en herstel van natuurlike hulpbronne. Hou aan bid dat op hierdie terrein deur kundiges werk geskep sal word tot voordeel van die hulpbronne en werkloses. “….bewoon die aarde en bewerk dit”. Gen. 1:28

Vrydag: Geestelike Leiers: Kom ons waardeer ons geestelike leiers, dank die Here vir hulle, bid vir hulle goeie gesondheid, vrede en vreugde toe en seën hulle met die woorde van Paulus aan die gemeente in Thessilonika: “Mag die Here, wat vrede gee julle altyd in alle opsigte vrede gee. Die Here sal by julle almal wees!”. 2 Thess 3:16

Saterdag: Lofprysing:  Soek ’n Psalm van Dawid en lees dit vir uself hardop – dink aan die ervaring van Dawid terwyl hy die woorde neergeskryf het.

@@@

 

In die Nuus