Deur : Skriba  /  July 30th, 2018

 

Gebedsbulletin 29 Julie 2018

“Dit het ek wel ingesien dat dit ’n mens meer baat om wysheid te hê as om dit nie te hê nie, net soos lig ’n mens meer baat as duisternis” Pred. 2:13

“Wie het werklik wysheid? Wie kan verklaar wat gebeur? Wysheid maak ’n mens vriendelik, dit verander ’n strak gesig” Pred. 8:1

Sondag: Verootmoediging: Ons dink oor hierdie verse en verootmoedig ons voor die Here wat alle wysheid besit en deur sy Gees dit in ons wil bewerk.”Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig”. Spr. 9:10

Maandag: Middelburg: Die gemeente in Middelburg het nog nie ’n nuwe leraar nie en beplan om ’n tweede beroep uit te bring. Kom ons bid dat die Here vir hulle ’n man-van-God sal stuur wat die gemeente in Gees en Waarheid sal lei. “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie”. Spr. 3:5

Dinsdag: Dankie, vir die reën: Ons is baie dankbaar vir die welkome reën van Junie-maand. Dit is amper ontstellend om te sien hoe droog dit nog in Mosselbaai en hier by Barrydale/Ladismith is. Kom ons vra maar in ons dankie sê dat daar ook uitkoms sal kom. “Maak my(hulle) ’n voorbeeld van u goedheid dat ander kan sien dat U hulle help en uitkoms gee”. Uit Ps. 86 vers 17

Woensdag: Geweld in Hermanus: Mense in Hermanus is vreesbevange en ry vêr ompaaie om by hul plekke te kom. Siek mense kan nie mediese sorg bereik nie en babas sterf by geboorte – dis die werklikheid. Hier kan net die Here help. Kom ons bid dat die Here deur die werking van die Heilige Gees sal ingryp en mense moeg sal maak vir geweld en dat hulle eerder hul probleme op vreedsame wyse sal probeer oplos. “Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan…..omdat hy my liefhet sal Ek hom red, sê  die Here, omdat hy My ken, sal Ek hom beskerm”. Ps. 91: 11 en 14

Donderdag: Werk van Edmund. Ai, Edmund vra die week dat ons bid vir ’n 8 jarige dogtertjie wat verkrag is en vir ’n plaas wat oorweeg om by Amos in te skakel. Bid vir die sake en ook in die algemeen vir die kosbare werk wat Edmund doen.           “Die Here het vir sy land opgekom, Hy het medelye betoon met sy volk. ..Die Here het geantwoord, Ek stuur vir julle koring, wyn en olie – julle sal oorgenoeg hê!”.         Uit Joël 2:18

Vrydag: Geestelike Leiers: Ons bid dat die Here aan ons geestelike leiers begrip en ʼn fyn aanvoeling sal gee om in hierdie dae van geweld en vrees  met wysheid en insig die boodskap van Jesus te verkondig.      “Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle voor die tyd gese”. Markus 13:22

Saterdag:   Lofprysing:            Ons Skrifgebed kom uit Jer 14:22 “Is daar onder die nikswerd gode van die nasies een wat laat reën, wat die hemel sy reën kan laat gee? Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen”.

 

 

In die Nuus