Deur : Skriba  /  May 3rd, 2019

Gebedsbulletin 5 Mei 2019

Neh. 8:7 “Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: ‘Amen, amen”. Lees asb. die hele hoofstuk 8 van Nehemia tot waar hy die volk wegstuur om fees te fier “as julle die Here met blydskap dien, sal Hy julle beskerm”.

Sondag: Verootmoediging: Aanvanklik het hierdie riglyn verwys na “bankgebed” as verootmoediging voor die erediens begin en met verwysing na die aanhefteks hierbo. U kan dit ook in u stiltetyd, tydens u oordenking,  invoeg. Dit is kosbaar dat ons in die konsistorie, net voor ons ingaan, so ’n paar oomblikke van stilword handhaaf. Hier bid on sook spesifiek vie die prediker wat sê ‘So sê die Here’.

Maandag: Verkiesing: Nou is dit hier – ons stem Woensdag. Here, gee asseblief vir ons ’n rustige dag en dat die stemmery rustig sal verloop. Ons is opgewonde oor wat U gaan doen, Here, ons God! Ons bid vir gelowiges in die regering en leiers wat hul leiding van U afbid. Gee dat hulle in afhanklikheid van U sal regeer. “U het u goeie Gees gegee om hulle te onderrig…” Neh. 9:20

Dinsdag: Reën: Ons het  gesien hoe die Karoo lewe kry, hoe riviere raas soos hulle afkom, hoe Middelburg jubel oor die reën en ons weet die Here hoor as ons vra. Te midde van die seëninge hoor ons steeds van boere wat hul boerdery opgee en net die verder kan nie. Kom ons vra dat die Here ook in sy goedheid daar reën sal gee. Here, “maak hulle ’n voorbeeld van u goedheid” uit Ps. 86. “Hy maak die reënwolke en laat die stortreën val, Hy gee vir mense die groen plante in die veld”. Sag 10:1

Woensdag: Natuurrampe: In die nuus word ons weer blootgestel aan ramptonele van paaie wat weggespoel het, huise wat verwoes is en stygende dodetal soos die puin opgeruim word. Ons buurland Mosambiek het erg deurgeloop, die kleisteen kerk wat Ds. Khoza help bou het, het inmekaar gesak. Ons bid dat ons Here ook hier sal sorg, op so ’n wyse dat menses sê: Net die Here kon dit doen!  “Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral! U heers oor die onstuimige see as die golwe opstaan(en natuurrampe), laat hulle bedaar!” Ps. 89:9 en 10

Donderdag: Sinode Wes- en Suid-Kaap Goudini. Die Sinode van die Wes- en Suid-Kaap vergader van 13 tot 17 Mei in Goudini. Die NG Kerk word in hierdie dae gekonfronteer met ontsaglike uitdagings en die Sinode verklaar hul afhanklikheid van die leiding van die Heilige Gees in die sakelys. Kom bid saam dat die Here leiding, toerusting, gehoorsaamheid en eensgesindheid sal bewerk sodat die leierskap ook duidelike leiding aan sy lidmate sal gee. “Ons sien op na U wat uit die hemel heers”, Ps. 123:1

Vrydag: Geestelike Leiers: Bid asseblief vir alle predikante wat in hierdie tyd voorberei om die komende Pinksterreeks aan te bied. Pinkster is ’n besondere tyd in gemeentes en dra ’n heilige verwagting (’n afwagting) in ’n gemeente in wat andersins ongekend is. Bid asseblief dat dit ook in ons gemeente ervaar sal word. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom…” Hand 1:8

Saterdag: Lofprysing: “Inwoners van Sion (Wellington), julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want Hy het die vroeë en laat reën soos voorheen gegee”. Joël 2:23.

@@@

 

Huisgeloof – 5 Mei 2019

Dissipels wat ander na Jesus lei

Gesels saam

Wat is die beste nuus wat jy al ooit gekry het? Hoekom was dit vir jou goeie nuus? Vir wie het jy almal hierdie nuus gaan vertel?

Kan julle nog die woorde onthou waarmee ons mekaar met opstandingssondag gegroet het?

Groet mekaar met die woorde: “Die Heer het opgestaan.” “Hy het waarlik opgestaan.”

Lees saam

Lees Romeine1:16-17  saam. [Bybel @ Kinders] Ek is nie skaam oor die goeie nuus dat Jesus vir ons sondes gesterf het nie. Ek vertel dit graag vir mense. Want God se groot krag werk op elke plek waar hierdie nuus vertel word. Hy red almal wat dit glo, maak nie saak wie hulle is nie. Dit is presies soos wat die Bybel se: “God is nie meer kwaad vir mense wat in Hom glo nie. Hulle sal vir altyd lewe!”

Dink saam

  • Vertel van ‘n geleentheid toe jy gesien het hoe God se groot krag aan die werk is.
  • As jy hierdie verse lees, wat sê dit vir mens oor hoe ons van ons sondes verlos/gered word?
  • Hoe kan jy hierdie 2 verse vir iemand anders gaan vertel?

Bid saam

Sê dankie vir die groot waarhede wat die 2 teksverse vir ons sê. Bid vir God se leiding in die gemeente – op alle terreine.

Doen saam

Skryf hierdie teksverse op ‘n papier. Julle sou dit ook kon versier en plak dit iewers in die huis op waar almal dit kan sien.

Kinderfokus

Op die sypaadjie of stoepie voor julle huis, teken met bordkryt twee voetspore met ‘n kruis tussen die voetspore. Elke keer as julle die huis verlaat of terugkom kan julle in die voetspore trap as ‘n herinnering dat God se krag nou deur ons werk.

 

In die Nuus