Deur : Skriba  /  July 12th, 2019

GEBEDSBULLETIN

Ps. 9:11 “Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie”.

Ons innige wens is dat u die nuwe semester nie sal nalaat om na die wil van die Here te vra nie en te glo dat wat u vra, volgens die wil van die Here sal wees.

Sondag: Verootmoediging: Dink daaraan dat die helfte van die jaar verby is en dink in dankbaarheid oor wat u van God in die afgelope halfjaar ervaar het. Hy sal u nooit in die steek laat nie(Ps. 9) en sal ook in die ander helfte van die jaar vir u sorg(Ps. 33). “Dit is die Here wat sorg vir die wat Hom eer en vir die wat op sy mag vertrou…..” Ps. 33:18

Maandag: Almal op pad: Skrikwekkende statistiek oor noodlottige ongelukke op die paaie van die land laat ’n mens na jou hart gryp. Dank die Here vir die aantal kilometers wat u veilig kon ry en bid vir hulle wat, binne en buite die vakansietyd, lang afstand moet ry. “Here, U ken my gedagtes nog voordat dit nog by my opkom. Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend”. Ps. 139:2

Dinsdag: Die Winter is hier! Ons bid vir almal vir wie die wintertyd met sy nat en koue weer, ’n verskrikking is – die haweloses. Ons bid dat die Here deur gelowiges voedsel, kleding en skuiling sal voorsien en dat die ontvangers  die hulp as genade uit die hand van die Here sal ervaar. “Ek bedoel nie dat julle gebrek moet ly om ander te help nie; maar sodat daar ewewig sal wees….,Die met baie, het nie te veel gehad nie en die met bietjie, nie te min nie”. 2 Kor. 8:13

Woensdag: Leerkragte en leerders: Die derde kwartaal word gewoonlik beskou as die belangrikste in die jaar – veral vir die matrieks en tesame met die res van die jaar is dit so gou verby. Bid asseblief vir leerkragte en leerders dat hulle met toewyding en ywer die studiewerk sal aanpak en dat daar tog geleentheid sal wees om in skole die evangelie van Jesus Christus te verkondig. “My seun as jy ’n wyse mens word, sal dit my baie vreugde verskaf. Ek sal juig as wat jy sê, altyd reg is”. Spr. 23:15

Donderdag: Bendegeweld en vandalisme: Mense wat in die bendegeteisterde gebiede bly vertel onbeskryflike stories van die geweld en sinlose moorde – soveel onskuldige mense verloor hul lewe deur dwaalkoeëls.  Selfs hier in die suide van Wellington klap die skote dikwels in die nag. Kom ons bid dat beskermingsdienste daarin sal slaag om geweld te bekamp en dat die Here vrede sal gee in die gebiede. “Hoe lank moet ek om hulp roep, Here, oral om my is daar onderdrukking en geweld. Die wet het nie meer krag nie…. “ so klae Habakuk in sy gebed. Hab. 1:2 tot 4

Vrydag: Geestelike leiers: Ons het die vreugde gehad om Ds. Cornis en sy gesin te ontvang en in die proses net weer onder die indruk gekom van sleutelrol van ’n leraar in die gemeente. Daarom moet ons vir al die geestelike leiers die liefde van die Vader, die genade van ons Here en die ondersteuning van die Heilige Gees toebid – daarsonder kan hulle nie. “Die Here sal julle seën en julle beskerm, die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees, die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee!” Num. 6:24 – 26.

Saterdag: Lofprysing: Ons lofprysing kom uit Ps. 8:10 en Ps. 138; “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! en “Ek wil U met my hele hart loof…… want aan u liefde is daar geen einde nie!”

 

In die Nuus