Deur : Skriba  /  February 14th, 2020

Gebedsbulletin 16 Februarie 2020

Ons tema vir die gebedsriglyne in Februarie is: “Ek meld aan vir diens” en dat u tydens u stiltetyd God sal vra wat u rol is om dit wat u van God vra, waar te maak.

Hand 8:26 + 27 “’n Engel van die Here het vir Filippus gesê ‘Maak jou klaar en gaan teen die middag na die pad wat van Jerusalem af Gasa toe loop. Filippus het toe klaargemaak en gegaan”.

Sondag: Verootmoediging: Jaco sê, somtyds is dit goed om net stil te sit by die Here en somtyds is die Here ook net stil by jou. Dit gebeur soms by ’n sieke of bedroefde – om net stil te sit, om net op te daag.

Maandag: Ontdek jou Gawes: As ek die Bybel reg verstaan het God ELKEEN toegerus met gawes tot voordeel van ander. Binne die gemeente is daar voldoende(oorvloedige) gawes om werklik gemeente(volgelinge) van Christus te wees. Bid daaroor, meld aan by die kursus, om vas te stel wat jou gawes is wat God in jou belê het. “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil…..” Rom 12:6 (lees asb. tot vers 8).

Dinsdag: Reën: Die beeste staan in Middelburg kniediep in die groen weiding en die paaie is modderrig, maar dis alles goed en almal is bly. Kom ons sê saam met boere oor die land dankie vir die reën, maar vra ook dat hulle wat nog nie ontvang het, ook betyds geseën sal word. “Die woord van die Here het tot Elia gekom en gesê: ‘Ek wil weer  in die land laat reën….” 1 Kon 18:1. Laat dit so wees Here..A-amen.

Woensdag: Jeugbediening: Ons is besorg oor talle leerlinge wat nie by die kategeseklasse opdaag nie. Die saak kan ons aan die Here opdra met die vraag wat u rol in die saak kan wees – miskien wil die Here u as instrument gebruik. “Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is EN as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan”. Deut. 6:7

Donderdag: Geloofsbelofteoffers(GBO): In groot skrif bo-aan die brosjure staan: ’n Geloofsoffer is ’n vrywillige offer vir die uitbreiding van God se Koningkryk, bo en behalwe jou dankoffer. Bid daaroor en luister fyn wat die Here vir jou in hierdie verband se.    “Al was hulle swaar beproef deur verdrukking, hulle blydskap was oorvloedig; en al was hulle baie arm, hulle was ryk in hulle oorvloedige vrygewigheid” 2 Kor. 8:2

Vrydag: Geestelike Leiers: 1Kor 15:58 “Daarom liewe broers, wees standvastig, onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie”

Saterdag: Lofprysing: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys” Ps. 115:1

@@@

 

In die Nuus