Deur : Skriba / March 19th, 2020
Gebedsbulletin 22 Maart 2020
Ons volg die tema: “Here breek my hart met wat u hart breek”
“Een van die serafs het toe ’n gloeiende kool met ’n tang van die altar afgevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: ‘Nou dat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen”. Jes. 6:6
Sondag: Verootmoediging: Ons bid ‘Here raak my aan soos U Jesaja aangeraak het’ en vertrou dat die Here u sal bystaan op die pad wat Hy aandui. “As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon”. Ps. 25:12
Maandag: Die land is onder beleg! Dit is moeilik om die waarheid van fopnuus te onderskei, maar een ding staan vas, gelowiges behoort nie paniekerig te raak oor die nood situasie nie! Jesus se; Moenie ontsteld raak nie, glo in My – nou gee ons die situasie vir Hom in gebed, doen nie onverantwoordelike dinge nie, respekteer die ruimte van ander en vermy gevaarsones. Ons bid vir almal wie se familie in gevaarsones in die buiteland vasgevang is en ontsettende ongerief verduur. Dan vra ons nog dieHere om die tydperk in te kort. “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed!” Ps. 27:14
Dinsdag: Reën: Dit is ’n aangrypende verhaal wat ons verlede Sondag oor Wes-Boesmanland gelees het. Dit laat ons besef, net die Here kan uitkoms gee, daarom vra ons met vrymoedigheid en in geloof. “Wie ag gee op die woord van die Here, sal voorspoed geniet; wie op die Here vertrou, met hom gaan dit goed”. Spr. 16:20
Woensdag: Zondo Kommissie: Te midde van die chaotiese finansiele omstandighede laat die getruienis wat voor die Zondo-verhoor gelewer word mens na jou hart gryp! Vra die Here om ook hieruit vir ons goeds te voorskyn te bring sodat die land weer kan kop optel en met moed vorentoe kan kyk. Vra dat die regsstelsel met gesag op dreef sal kom, reg sal spreek sodat die omdraai ons sal verstom. “Die mens kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom”. Spr. 16:33
Donderdag: KYK NA DIE ANDER VOLKE: Wanneer Habakuk by die Here klae oor geweld en ander booshede, draai die Here sy gesig na ander volke om te demonstreer wat met ongelowiges gebeur. Ons wonder self hoe ongelowiges deur hierdie krisisse wat ons beleef kom. Op wie vertrou hulle vir reën? ‘Here, Almagtige, dankie dat ons op U kan vertrou, dat ons oor dié dinge met U kan gesels en weet dat U omgee. Gebruik my as instrument om negatiewe kommentaar tot u eer, positief te draai’.
Vrydag: Geestelike Leiers: die geestelike bediening van die gemeente word bestuur deur die predikante. Kom ons bid vir hulle in hierdie onseker tye, vol paniek en angs. “Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling” Spr. 18:10
Vrydag: Lofprysing: “Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is” Ps. 16: 5 en 11
@@@