Ek sal gaan….

Deur : Skriba  /  May 10th, 2015

Ons staan in die skoene van ons jongste spruit (‘n proponent) wat in opdrag van God op ‘n jaaruitreik na Suid-Amerika moet vertrek … en ‘n allemintige R90 000-00 (om sy reis en verblyfkostes te betaal) binne 3 weke êrens moet bymekaarmaak. E-posse en versoeke vlieg deur die lug en weldoeners maak hulle beursies en harte so ruim oop dat hy R20 000 kon weggee aan ander jongmense wat nog geld gekort het vir die reis. Die groep van 9 is op pad na die onbekende!

‘n Jaar vol van God se genade en trou wag op hulle! In al die lande waar hulle gearbei het, is hulle met liefde en ope arms ontvang. Kerke, skole, kategeselokale en gemeentehuise is gebou, geverf en gerestoureer. Maar die eintlike waarde was in menseharte. Hulle het saam gebid, gevas, gehuil, vertroos en bemoedig. Verhoudings en vriendskappe is gesmee en daar is baie geluister en nogmaals stilgeword en geluister. Vir almal ‘n groeiproses en vir baie in die groep, ‘n grootwordproses binne een jaar.

Volgens die boekie “Wonderwêreld, ‘n gespreksgids vir 4 weke” is daar 1,5 miljoen sendelinge waarvan 5 000 werk in lande waar dit onwettig is om ‘n Christen te wees. Tans is daar 5 miljoen mense wat voltyds in die bediening is. Kom ons raak medewerkers aan God se “rewolusie” deur veranderings te bring aan denkrigtings of ‘n ommekeer van waardes teweeg te bring deur ons invloed as Christene in ons omgewing te laat geld.

Suid-Amerika of ander wêrelddele is nie vir ons almal beskore nie, maar ons kan sendelinge soos Miriam, Dries en Marilee Volschenk, ds Khoza en die vele bedieningsvelde van ons gemeente steun deur ons betrokkendheid met gebede, e-posse en geloofsoffers. Begin tuis met huisgodsdiens, bid saam met jou huishulp of neem ‘n oupa of ouma in Silwerkruin aan. Help Steenkamp Claassen by die G-projek en ondersteun Elsa Giliomee om duvetoortreksels te stik. Dalk is dit net om gewillig te wees om jou basaarsameroepster te help.

Kom ons trek die “bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig” as skoene aan ons voete en ons GAAN waarheen God ons stuur… Hy maak die onmoontlike moontlik, wees net ‘n instrument.

Susna du Toit

In die Nuus