GEBEDSBULLETIN

Deur : Skriba  /  July 23rd, 2016

“Ek het gesê; ‘Saai volgens my wil en julle sal my liefde oes. Ploeg vir julle ’n nuwe land! Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet”. Hos. 10:12

Sondag: Verootmoediging: In een van ons nuwe liedere sing ons “Laat u wil ook myne wees!” Dink daaroor tot watter mate u dit kan sê. “Doen slegs u wil, Heer, u wil met my! (Sing hierdie lied in u gedagtes).

Maandag: Huis Andrew Murray: Ons is nou verbind met die kinderversorgingsoord. Kinders word hier ’n geleentheid gegee wat hul nie in hul ouerhuis kan kry nie. Die leierskap en werkers stel hul vertroue in die Here, die groot Kindervriend, ons vra dat u vir hulle almal bid. “Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën” Mark 10:16

Dinsdag: Munisipale Verkiesing:  Kom ons vra in die verkiesing na die wil van die Here sodat Hy kan kom en ons seën met leiers wat “eerbied vir die Here het” en “waarde heg aan sy Naam” volgens Maleagi 3:16. “Maar vir julle wat eerbied het vir my Naam, sal die son van redding skyn met genesing in sy strale”. Mal 4:2

Woensdag: Dries Volschenk: Dries was in die hospitaal in Lichtenburg en sterk aan by familie en vriende. Marlee skryf: Bid asb dat Dries gou gesond kan huis toe kom om tyd saam met die kinders te kan spandeer voor hulle nuwe skooljaar begin einde Augustus.

Donderdag: Die bedreiging van IS wêreldwyd. Met die jongste vlaag van tereuraanvalle is daar nie ’n land in die wêreld wat van aanvalle gevrywaar is nie. Ons Here kan die bose beweging in sy spore stop en vernietig. “Maar die wat die verkeerde pad loop, mag die Here hulle vernietig saam met die wat onreg doen!” Ps. 125:5

Vrydag: Geestelike leiers: Kom ons seën ons geestelike leiers met die woorde uit Jes. 58:11 “Die Here sal jou(julle) altyddeur lei; selfs in dor streke sal Hy in jou(julle) behoeftes voorsien. Hy sal jou(julle) sterk maak.”

Saterdag: Lofprysing. Lees vir uself (hardop) die derde vers van lied 220 in die Liedboek: “In ’n koor met duisend stemme sal ons loflied U besing……… ons sal U steeds loof en dank”.

 

In die Nuus