Oktober

Deur : Skriba  /  October 25th, 2015

Oktobermaand …… en op die horison wink Kersfees reeds met blink liggies, geskenke ….. en stil word om die krip.

 

Maar vir ons jongmense in matriek het die einde van hul skooljaar nou aangebreek en het die finale rekenskap van twaalf jaar op die skoolbanke, die Groot Eksamen, reeds begin ….. vir Ma en Pa ook. Want sien, ‘n matriekeksamen omsluit die hele gesin. Weke lank is dit die spilpunt waarom almal in die huis se lewens draai. Selfs die hond moet sy blaf inhou.

 

Kom ons probeer dus hierdie maand staan in die skoene van ons matriektieners.

 

Elke betrokke gesin KAN die angel uit hierdie veeleisende eksamen haal deur stille begrip, onvoorwaardelike ondersteuning en geen druk te plaas nie. Deur net ‘n rustige studieplek te skep met genoeg peuselgoed. (Die nadele van suiker en te veel stysel is nie nou van belang nie …. ‘n bietjie bederf wel.)

 

Dit is ook ‘n tyd vir elke ouer om selfondersoek te doen. Is die verwagtinge vir my kind my eie ….. of dié van my kind? Eis ek dalk daardie goue A-gemiddeld, terwyl my kind se heel beste dalk ‘n C-simbool is? Druk ek hom of haar in ‘n akademiese rigting met roem en doktorsgrade in die vooruitsig …. of is ek realisties oor my kind se aanleg en eiesoortige talente? Is ek net so trots op daardie gemiddelde C- of D-simbool?

 

Een groot verwagting van ons almal is egter dat hierdie blinkoogtieners ‘n verskil gaan maak in ons stukkende land. Dat hierdie jongmense met vars idees en sonder ‘n rassebril na ons land sal kyk. Hulle nie sal blindstaar teen die oorweldigende donker wolk van korrupsie en morele verval nie, maar dat hulle met stewige ankers en hulle oog op God sal hande vat en nuut sal dink …… en uiteindelik weer hoop sal bring vir almal in Suid-Afrika.

 

So, ons gebed vir ons matrieks is dat hulle hierdie eksamen nie in eie krag sal aandurf nie. Dat hulle elke oggend eers sal stil word voor ons wonderlike Vader, Sy kalmte vra en dat Hy elkeen in die holte van Sy hand sal hou. En daar waar hulle tydens die eksamen mag vashaak by ‘n moeilike vraag, net eers sal stil word en wysheid en kalmte vra. Mag elkeen elke dag sterk bewus wees van Sy sagte teenwoordigheid daar langs die eksamenbank.

 

Dan SAL dit goed gaan. Dan SAL hulle drome waar word.

Louise

@@@

In die Nuus