OP JULLE MERKE…GEREED…

Deur : Skriba  /  April 19th, 2015

Sit jy kaalvoet opgekrul daar in jou gemakstoel? Gaan trek dan gou ‘n paar skoene aan, want jy moet êrens heen gaan.

 

“Waarheen?” vra jy. Dit hang van jou af.

 

My dogter wat in Kaapstad woon, het onlangs Khayelitsha toe gery om na haar huishulp se nuwe yskas te gaan kyk. En daar staan die twee toe in die kombuisie voor die silwerblink yskas wat byna driekwart van die vloeroppervlakte vul – Maria Takusa stralend en Hannchen met ‘n knop in die keel.

 

Ons hoef nie altyd ver te gaan om ‘n verskil in ander se lewens te maak nie.

 

Gaan sit ‘n slag met jou huishulp by ‘n tafel en skryf haar en haar gesin se besonderhede neer. Bied jou hulp aan met ‘n ID, ‘n begrafnisboekie, ‘n rekening, voorstelklere vir haar dogter, ‘n kliniekbesoek.

 

Daar in jou buurt is dalk huise wat jou bitterlik nodig het. ‘n Beker groentesop, ‘n troos- woord, ‘n drukkie?   GAAN!

 

En in jou alledaagse omgang? Groet jy die meisie by die kasregister? Gesels jy met die petroljoggie, die karwag, die man wat jou trollie stoot, die verkoper van draadharte en verestoffers?

 

In jou huis? Gaan bel daardie familielid met wie jy al so lank ‘n stram verhouding het. Stap af in die gang na jou kind se kamer om jammer te sê vir jou onbedoelde woorde. Gaan na jou man en sit jou arms om hom – vir sommer net. Die lewe is kort.

 

En ons gemeente se projekte? Dit kan soveel mense se lewens aanraak. Dink maar net aan die kinders van ‘n Crossroads skooltjie wat GEHUIL het toe hulle hoor hulle mag die duvets wat ons geskenk het , HUIS TOE neem!

 

Kom ons maak harte bly en ondersteun die breiprojek, die skoenboksprogram, die noodvoorradeplan, die duvetspan, die handsakprojek vir verkragtingslagoffers.

 

Mag dit gou nodig wees dat jou skoene van bereidheid versool moet word!

 

Mooi loop.

 

Elsa Giliomee

In die Nuus