UIT DIE PEN VAN `N VROU

Deur : Skriba  /  September 9th, 2016

“ONS BRODE EN VISSIES

 

Gister kom loer my sussie in vir koffie. Sy bring die ongelooflikste piesangbroodjie saam. ‘n Kollega het dit vandag vir haar as geskenk gegee, vertel sy. Hy maak elke Woensdag iets wat hy as sy “ubuntu kos” uitdeel aan mense. Sy hou so van die gedagte. Sy wil ook ubuntu kos maak. Sy woon egter in ‘n piepklein woonstel met net ‘n mikrogolfoond en braaipan – die somtotaal van haar kosmaakgeriewe.

Ons sit en bedink haar dilemma oor koffie en piesangbrood. Dan tref dit my – vir ‘n lekker toebroodjie het jy geen geriewe nodig nie. Dis eenvoudige ubuntu kos wat ‘n honger maag op straat baie gelukkig en tevrede kan maak.

Ek dink ons het almal iets in ons hand waarmee ons kan en moet woeker. Ons kyk dit soms mis omdat ons dit as so gering ag in ons eie oë. Partykeer is dit eenvoudig net so gemaklik om blind te wees vir wat ons het. Maar Jesus kyk nie met ons oë nie. Hy sien die groot prentjie.

As ons elkeen ons klein deeltjie doen, kan ons beslis saam ‘n beduidende verskil maak. Dit laat my sommer dink aan die seuntjie met die vyf broodjies en twee vissies.

Hoe min en eenvoudig en onbelangrik het dit destyds in daardie seuntjie se hand gelyk. Tog was hy bereid om dit te deel. Deur sy hand oop te maak, kon Jesus hom gebruik vir ‘n wonderwerk. Vandag is dit een van die mooiste wonderwerke in die Bybel.

Die seuntjie moes maar net sy hand oopmaak en bring wat hy het. Sy klein deeltjie kon ‘n groot verskil maak. Jesus sien ons harte wanneer ons, ons deeltjies tafel toe bring. En daarmee kan hy groot wonderwerke bewerk.

As ons maar net ons hande én harte oopmaak. Dan kan ons saam ‘n verskil maak.

In die Nuus