Deur : Skriba  /  May 30th, 2018

 

 

 

Gebedsbulletin 27 Mei 2018

2 Kor. 2:14 & 15 “Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ’n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word sowel as dié wat verlore gaan”.

Sondag: Nou is Pinkster verby en ons gaan met die belofte en seker wete dat God deur sy Gees altyd by ons is. Nou bereik die geur van ons lewe verskillende mense, sommige sal die boodskap van ons lewe met blydskap ontvang, ander sal dit as ’n ergenis ervaar. Dis die lewe! “Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here…” 2 Kor. 3:18

 

Maandag: Kleingroepe: Ons het in die bespreking van die Pinksterreeks weereens die waarde van kleingroepe ervaar. Bid vir alle groepe dat die Heilige Gees leiding sal gee in besprekings en voorbidding. Indien u nog nie aan ’n groep behoort nie, vra die Here of dit vir u beskore is.         “Toe ek in Troas gekom het om die evangelie van Christus daar te verkondig, het die Here die deure vir my wyd oopgemaak”.  2 Kor. 2:12

 

Dinsdag: Reën: Dit het vandag al so 9mm gereën en daar is belofte van nog. Dit is heerlik om sommer net jou hande op te steek en die Here te dank vir die seën! Ons mag maar met die Here gesels oor die dele wat nog reën nodig het en die damme wat nog nie aangevul is nie. Dit is net die Here wat gegee het en weer kan en sal gee.    “Inwoners van Sion(Suid-Afrika), julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want hy het die reëns betyds laat kom, Hy het die vroeë en laat reën soos voorheen gegee”.Joel 2:23

 

Woensdag: Lyding ter wille van…: Petrus praat in sy briewe van “lyding ter wille van” en bemoedig Christene met die belofte dat die vreugde na die tyd veel groter is. Ons kan eintlik nie saampraat nie, maar ons kan ’n hart ontwikkel vir hulle wat ly ter wille van hul geloof in Christus as Verlosser. Die gebedsbriewe van Geopende Deure gee duidelike inligting en riglyne. Kom ons dra hulle gereeld aan die Here se sorg op, kom ons bid dat hulle van die blydskap sal ervaar waarvan Petrus praat. “Wees liewer bly hoe meer julle in die lyding van Christus deel, want dan sal julle ook oorloop van vreugde by sy wederkoms…” 1 Pet 4:13

Donderdag: Moslems – Ramadan 15 Mei – 14 Junie: Ramadan is vir Moslems ’n tyd van soeke in vas en gebed na die waarheid, sin van die lewe en lofprysings na God die Almagtige. Bid dat die Here, tydens Ramadan, Hom aan Moslems sal openbaar in drome, visioene en openbarings en dat talle tot geloof in Christus sal kom. “Ek sal My voor die oë van al die nasies laat ken as die groot en die heilige God en hulle sal besef dat Ek die Here is!”. Eseg. 38:23

Vrydag: Geestelike leiers:  Die getuienis van ons geestelike leiers in die gemeente is vir ons ’n kosbare venster op die wil van God. Kom ons bid vir hulle met deernis en liefde dat die Here hulle sal oorlaai met goedheid en guns, hulle die woorde by elke geleentheid sal gee om te weet hoe en wat om te antwoord sodat God die eer sal kry. “So sê die Here, die Almagtige, skep moed!” Sag 8:9

 

Saterdag: Lofprysing: “Here, U het my vrygemaak. Ek wil U loof met ’n dankoffer, ek wil die Naam van die Here aanroep. My geloftes aan die Here sal ek betaal in die teenwoordigheid van die hele volk(gemeente)..” Ps. 116:16 en 17

 

In die Nuus