Deur : Skriba  /  March 1st, 2019

 

NUUT VERKOSE KERKRAADSLID

Baie geluk aan Reynier van Rooyen as nuut verkose kerkraadslid wat die Jeug

verteenwoordig.

 

LERAARSBIDUUR

Die Leraarsbidure op Dinsdagaande vind nou in die konsistorie plaas. Al die wyke wat op die kalender aangedui word, kom daar bymekaar.

 

INFORMASIE

Help asb. Ons is besig om ons lidmaatregisters( adresse, selnommers  en eposse)op datum te kry . Help asb die Vat 5ers wat by u navraag doen om vas te stel of die inligting korrek is . As ons  registers korrek en op datum is kan die gemeente net soveel meer effektief funksioneer en kommunikeer. Indien u epos / adres / selnr verander, skakel asb kerkkantoor direk. So help jy die Kantoor om op datum te bly met korrekte inligting.

 

DRIES VOLSCHENK MADAGASKAR

  1. Dries en Marlee Volschenk kom besoek ons op 10 Maart en hy preek die oggend. Indien iemand hul wil nooi vir middagete, kan julle net met Ds NJ skakel.
  1. Besoek aan Dries Volshenck in Madagaskar

Dries Volschenk, ons sendeling in Madagaskar, besoek ons gemeente weer op 10 Maart. Ons ondersoek die moontlikheid om hulle later in die jaar te besoek.  Dit sal baie waarskynlik ‘n klein spannetjie wees, van nie meer as 3-4 persone nie. Indien jy sou belangstel om deel van so n span te wees, kontak vir R van Velden: 0828574368. Die moontlikheid van so ’n besoek sal op 10 Maart verder met Dries bespreek word.

 

OMGEE GROEP BEJAARDES

Daar is tans behoefte by Silwerkruin vir 6 “omgee kinders” vir bejaarde mense wat werklik baie eensaam is. Daar is 4 Afrikaanse tannies, 1 oom, en 1 Nederlandse tannie. Die behoefte is nie  finansieël nie, maar vir aandag en tyd.  Dalk ‘n weekliikse kuiertjie, nou en dan uitneem vir teetjies, of ‘n uitstappie, net wat Jesus op jou hart sit om te doen. Indien jy belangstel, kontak asseblief vir Chantelle by 072 437 9758

 

BEREID OM TE RY

Indien oor ‘n motor beskik, maar ‘n bestuurder benodig om vir u te bestuur, skakel gerus met Jeanette Burger 084 208 5811  of met Danie Theart  084 517 2610 Hulle is bereid om te bestuur.

 

TERREINBESTUURDER

Die Terreinbestuurder is van Maandag tot Vrydag tussen 7:00 en 13:00 op die kerkperseel. As u iets met hom wil reël, doen dit verkieslik in die tyd. Reël asb betyds met hom of kerkkantoor as hy iets gereed moet kry vir ‘n funksie of ‘n geleentheid.

 

ATKV –Wellington  Bybelstap 2019

Datum:   Woensdag, 6 Maart 2019

Tyd: 17:30 ( Inskrywings vind vooraf plaas, vanaf 17:00)

Wegspring Plek: Genl. Hertzoglaan, regoor Hugenote Hoërskool (Parkie)

Inskrywingsgeld:  R25-00

Deelnemers kry medaljes

Almal is welkom!!! Bring julle kinders en honde  saam. Honde moet asb aan

’n  leiband vas wees.  Fietse en stootwaentjies is ook baie welkom.

 Fondse ten bate van Bybelverspreiding

 

 

 

 

 

INSAKE:  BOORGAT

Ek verwys na die sms soos ontvang vanaf Du Toit Fourie aangaande sake wat deur lidmate ge-opper word waarvan hulle graag duidelikheid verlang.

Vergun my die geleentheid om slegs die boorgat kwessie aan te spreek, aangesien ek leiding geneem het nadat daar laas jaar besluit is dat daar geboor moet word.

Boor proses.

  1. Daar was 3 waterwysers gebruik om n potensiele gat uit te kom wys asook die konsultant het deel gevorm van die uitwys van die gat aldus 4 persone.
  2. Waar geboor is, is deur 3 aanwysers aangedui en een aanwyser het nie saamgestem met die ligging nie.
  3. Die resultaat was dat slegs n bietjie syferwater gevind is maar dat die gat klasifiseer as n droe gat tot op 125m (Sal uitbrei op die punt verder in skrywe.)
  4. Tydens onderhandelinge tussen die konsultant (Jonathan) die boor maatskappy en myself was daar onderneming gegee deur die boor maatskappy dat hulle sou oorweeg om op n later stadium vir ons n ander gat te kom sink wanneer hulle weer in die area sou wees.
  5. Nodeloos om te se dat toe ons hulle die einde van die jaar kontak om te hoor wat die situasie was het die boormaatskappy se eienaar besluit om nie hul aanbod te eerbiedig nie, en ek kon aflei dat die werksverhouding tussen die maatskappy en die konsultant versuur het.
  6. Ek het die kwessie opgeneem dat hulle n 4 duim gat geboor het wat omtrent deesdae nie meer gedoen word nie ipv 10 duim gat, aldus die rede dat hulle op 125m gestop het aangesien n 4 duim boor nie dieper as 100m kan boor nie. Die feit dat hulle nog n verdere 25m geboor het, het veroorsaak dat die laaste 25m skeef geboor was, met katastrofiese gevolge. Dit het in n oor en weer beskuldigings sessie ontaard tussen die konsultant en die boor maatskappy oor wie die besluit geneem het oor die 4 duim gat.
  7. Skriftelike korrespondensie tussen die kerk (Lappies) en die konsultant is bestudeer en gevind dat die gatgrote nie skriftelik gespesifiseer was nie, dus het ons geen voet gehad om op te staan nie en was uitgelewer aan die ander twee partye.
  8. Tydens die toets van die gat om vas te stel of die syferwater moontlik voldoende sou wees het die toetspomp vasgesit en kon nie herwin word nie agv van die laaste 25m wat skeef geboor was.

Die toets van die gat was n skenking van n ander maatskappy om die gat gratis vir die kerk te toets, aldus moes ons die pomp se verlies vergoed, en die koste daarvan is deur n donateur gedra en geen koste was vir die kerk nie. Die gat is toe verseël deur Johan Kloppers.

Aksieplan

Daarna is daar besluit dat ek verder sal onderhandel om n oplossing te probeer vind om te poog dat ons wel n ander gat kan boor met die hoop op water.

Gedurende einde verlede jaar het ek op navraag deur NJ aan hom genoem dat ons aan n aksie plan werk maar wil nie graag nou al dit bekend maak nie.

Ek het in Desember n gesprek met Jonathan gehad en na gelang van Du Toit se sms het ek nou weer met Jonathan opgevolg om vas te stel of ons twee se aksieplan nog staan.

Ek wil dit duidelik stel vir kennisname aan almal, dat Jonathan net so teleurgesteld was oor die situasie as onself, aangesien hy dit goed bedoel het om die aanbod aan die kerk te kom maak en het reeds kapitaal spandeer op tenke en pyplydings wat reeds instaleer is.Hy was werklik oortuig dat ons water sou kry.

Jonathan is besig om sy eie boor te bou en is reeds besig daarmee, en sodra die boor gereed is sal hy nog n gat vir die kerk gratis kom boor om te poog om water vir die kerk te kry.

Dit is egter baie duur om n boor te bou en hy koop die parte stelselmatig aan, sy beraamde tydskedule is tans dat die boor operasioneel behoort te wees by eind April waarna hy die gat vir ons sal kom sink.

Hy het egter versoek dat ons geduld aan die dag moet le en vir hom kans gee om alles in plek te kry sonder dat onnodige druk op hom geplaas word nie.

Ek het gevoel dat dit onsensitief sou wees om vir hom te vra om sy aanbod op skrif te plaas aangesien hy n goedgunstige aanbod aan ons gemaak het en dat ons hom daarmee moet vertrou.

Ek vertrou dit verduidelik waar ons nou staan, en ek hoop werklik dat die boor proses na April sal gebeur en dat ons wel water sal raak boor.

Tinus Broodryk

 

TERUGVOER UIT DIE KERKRAAD – Februarie/Maart 2019

Beste lidmaat

In ons strewe om ons lidmate ingelig te hou oor wat binne die gemeente gebeur, is daar besluit om na elke

kerkraadsvergadering kortliks verslag te doen oor besluite wat geneem is.

 

Aanwys van Wyksbyeenkomsleiers

Die kerkraad versoek graag die volgende persone om hulself beskikbaar te stel om op tree as wyksbyeenkomsleiers.  Nog name kan bygevoeg word.

Pieter du Toit, Suzan Wüst, Joos van Zyl, Herman Le Roux, Ds. Hans Linde, Ds. Eddie Orsmond, Dr. Hennie van Deventer, Dr Ryk van Velden. Edmund O’Ehley, Antoinette O’Ehley, Roelof Prins, Wimpie Erasmus, Buks Oberholser, Daan Spamer, Alet Berry, Alida Le Roux, Pieter Le Roux, Pé Marais, Tinus Broodryk, Ria Frylinck, Suzan Fabricius, Ben Steenkamp, André Gilliland, Koos Malherbe, Nella Brummer, Giel Haasbroek, Steenkamp Claassen, Johan Carstens.

Verkiesing van verteenwoordiger vir jong volwassenes tot die kerkraad.

Reynier van Rooyen.

Diensbaarheid in eredienste – Opneem van kollektes

Die kerkraad hoor graag van wyksgroepe, kleingroepe, kategese klasse en herfsvreugdekoor om te help met die opneem van kollektes tydens eredienste.

Webtuiste opgradering

Met die hulp van ‘n lidmaat is die webtuiste onder hersiening en word opgraderings beplan.

Kerkkantoortye:  Woensdagaand vs. Sondagoggend na erediens

Die kerkraad oorweeg om die Woensdagaand uur te verander na 45minute na ‘n erediens op Sondae binne skoolkwartale.  Finale gesprekke word gevoer met betrokkenes.

Uitverhuur van treintjie

Die kerkraad volstaan by ‘n vorige besluit dat die treintjie nie uitverhuur sal word nie.

Aanwending van kerkfondse

Die kerkraad wil graag lidmate inlig dat ondersoeke aan die gang is oor die aanwending van kerkfondse om te bepaal wat gedoen kan word om meer fondse vir getuienis-aksies binne en buite die gemeente beskikbaar tye stel.  Dit is in wese ‘n ondersoek hoe om fondse los te maak om uiting te gee aan ons visie, met ander woorde, dit waaroor kerkwees gaan.  Die ondersoek sluit in:

Offervaardigheid

Alternatiewe aanwending van kerk se eiendomme

Gawebediening

Salarisskaal van nuwe leraar

Om noodsituasies gereeld met die gemeente kommunikeer

Die Kerkraad keur die begroting goedDie begroting toon ‘n tekort van R30 000

Sinode-sitting te Goudini 13 -17 Mei: Die volgende afgevaardigdes word aangewys:

Predikante: Ds NJ van As, Ds Annelet Slazus, Ds Eddie Orsmond, Dr Ryk van Velden.

Primarius: Danie Theart, Ronel van Wyk, Du Toit Fourie, Karen van As

Sekunde: Jannie Fourie

Nuwe lidmate goedgekeur:

Abraham & Angelique du Plessis met hul kinders Shawn & Abby-Gail

Sinkronisering van fondsinsamelings en funksies

Wanneer funksies en fondsinsamelings beplan word moet dit liefs nie bots met funksies en insamelings van skole, ander gemeentes of eie aktiwiteite binne die gemeente nie. ‘n Kalender is by die kerkkantoor beskikbaar waarop datums gekontroleer kan word. ‘n Dorpskalender is ook by die inligtingskantore beskikbaar.

 

In die Nuus