Deur : Skriba  /  May 20th, 2012

PINKSTER 2012 V/A 17 – 27 MEI OM 19:00

Kom luister as gesin wat dit beteken om saam met God te lewe!    Sop en brood – na die diens kuier en eet ons elke aand lekker saam in die saal.  Nie bederfbare produkte –  kan in die trollie voor in die kerk geplaas word.  Deurkollekte ten bate van Bybelverspreiding – v/a Maandag 21 Mei tot Donderdag 24 Mei.  Daar is ook boeke te koop en CLF traktaatjies beskikbaar na die diens in die saal.

 

OSBRAAI

Baie dankie vir almal se hulp, ondersteuning en lekker saamkuier.

 

JUNIE DANKOFFER

Die diakens/dienswerkers kollekteer nie gedurende Junie nie, maar sal aan u ‘n dankofferkoevert gee wat u op 3 Junie (Dankoffersondag) of later in die maand kerk toe bring.  “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”  2 Kor 9:8

 

FINANSIëLE POSISIE VAN GEMEENTE

Danksy ekstra finansiële bydraes het ons die vorige boekjaar afgesluit met ‘n tekort van R62 000-00 ipv R80 000-00.  Ons begroot ‘n tekort van R161 000-00 vir hierdie boekjaar.  Die tekort is te wyte aan projekte en ondersteuning wat ons beplan bv ondersteuning aan Silwerkruin, ACVV Dienssentrum, Amosbediening, senior bediening (Vreugdediens), jeugbediening en nood in gemeente.  Daarom doen ons beroep op elke lidmaat om R10-00 pm ekstra te begroot vir dankoffer, dan wis ons die tekort uit.  “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het (beplan/begroot), nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”  2 Kor 9:7

 

WILDSFEES 28 JULIE

Hou die vrieskaste oop vir heerlike wildswors en -vleis, dalk ook skaap en bees vanaf Middelburg.  As u wil woeker vir u basaartafel en/of projek vir die kerk, skakel met Danie Theart 021 873 1275 / 084 517 2610.  Ons gaan feesvier, lekker eet en kuier.  Vertel vir u vriende en familie in ander dorpe en gemeentes.  Middelburg bring die vleis en ons die voete (kopers).

 

‘N LEKKERRUIK GESKENKIE  VIR DIE SENDELINGVROUE IN MALAWI

Die Vrouediens (Getuienis) wil baie graag die vroue van sendelinge in Malawi bederf met ‘n lekkerruik geskenkie.  Ons sal dit so baie waardeer as u dalk vir ons kan help met ‘n lekkerruik sepie of handeroompie of enigiets anders, wat ons dan saam met die uitreikgroep in Julie vir hulle kan stuur.  Baie dankie by voorbaat.  U kan dit by die kerkkantoor afgee of by die deure plaas.  Kontak:  Kerkkantoor of Lounette van Niekerk, Bainsvallei 15, 082 774 9039 / 021 864 3175.

 

SOPKOMBUIS MBEKWENI

Benodig droë bestandele soos pakkies droë, ertjies en sopmengesel.  U bydrae kan afgegee word by die kerkkantoor of Baby Botha, Mimostraat 1.

 

40 DAE – WANDEL IN DIE WOORD

Elke 40 dae veldtog in ons gemeenskap was tot dusver ‘n baie positiewe ervaring,  God het  lewens verander,  geestelike groei het plaasgevind en mense het  ‘n tuiste in ‘n kleingroep gevind. Die volgende 40 Dae wat ons aanpak is “40 Dae in die Woord” deur Rick Warren van die Saddleback gemeente.  Die fokus van hierdie reeks is om ons as gemeentes, en jou spesifiek, uit te daag om weer erns te maak met die Bybel.  Vanaf 19 Aug tot 27 Sep 2012 bied die 3 NG gemeentes saam ‘n reeks van 6 preke aan waarby kleingroepmateriaal aansluit en wat in die daaropvolgende week in die groepe bespreek kan word.  Wat moet jy doen om die uitnodiging te aanvaar? Kom skakel in by ’n groep (as plaas, besigheid, gesin, egpaar of selfs as individu). Vir 6 weke gaan die selgroepe onder leiding van gashere/-vrouens regdeur die gemeenskap, weekliks bymekaar kom. Die “groep” ervaring vorm die HART van die 40 Dae. Daarom vra ons dat jy met oorgawe deel sal word van ‘n groep vir die duur van die 40 Dae tydperk. Alle groepe, gaan vanaf 19 Augustus 2012 met ‘n kleingroep-werkboek “Wandel in die Woord” besig wees.  Nooi asseblief enige ander persoon of gesin uit.

 

VERLORE GOEDERE

Daar is verskeie items wat oor die jare agtergebly het na kampe ens wat nooit opgeëis is nie.  Indien dit nie teen einde Mei afgehaal word by die kerkkantoor nie, sal dit verkoop word.

 

SILWERKUIN HOU BASAAR!!

Silwerkruin ACVV Huis vir Bejaardes hou op Saterdag 26 Mei basaar.  Die geleentheid vind plaas op die terrein.  Toegang kan verkry word vanuit Bainstraat.  Die dag vol opwinding begin om 08:00 met ‘n pretloop/draf wat in samewerking met CPUT en Spar Wellington georganiseer word.  Inskrywings kan by Spar of Silwerkruin gedoen word.  Inskrywings kan ook op 26 Mei vanaf 06:30 – 07:00 by Spar gedoen word.  ‘n Boereorkes sal vanaf 10:00 musiek maak terwyl die gebruiklike basaarpoeding, pannekoek, gebak, vars vrugte en groente sowel as vleis te koop aangebied sal word.  U ondersteuning sal waardeer word.  Vir verdere navrae kontak Yvonne Booysen 021 873 1040 tydens kantoorure.

 

“TASTE AFRICA” BREAKFAST

Aangebied deur Africa Inland Mission (AIM) by Surfside Restaurant, Strand Pavilion, Kusweg, Strand op 2 Junie 2012 om 09:00.  Registrasiefooi is  R50-00 pp.  RSVP voor 25 Mei 2012 by 076  411 1565 / 021 761 5917 / aimsa@aimint.net

 

HALFTIME SEMINAAR

Kom ontdek hoe om die tweede helfte van jou lewe die beste helfte te maak.  Vrydag 1 Junie v/a 18:00 – 21:00 & Saterdag 2 Junie v/a 08:00 – 17:00 by Monte Video Gastehuis, Wellington.  Koste beloop R500-00 pp en sluit in werkswinkel fasilitering, kursusnotas, verversings en etes.  Kontak kerkkantoor vir verdere navrae.

 

DEUROFFER – CHRISTELIKE LEKTUURFONDS (CLF)

CLF voorsien reeds ‘n halfeeu gratis lektuur aan mense om die Boodskap van die Bybel aan hul te bring in hul eie taal.  Lektuur, in pamfletvorm, dek verskillende temas soos geloofsekerheid, maar spreek ook sosiale kwessies soos dwelm- en alkoholmisbruik aan asook mishandeling en geweld.  Ander temas word omsluit in pamflette oor huweliksverryking, lewenskeuses, depressie, selfmoord, hoe om die dood van ‘n geliefde te verwerk en nog vele meer.  Hierdie is ‘n kragtige evangelisasie instrument vir gemeentes.

 

NUUTVERKOSE KERKRAADSLEDE:

LEIERDIAKEN:             Hennie Engelbrecht

ONDERLEIERDIAKEN:  Herbert Sills

Ouderling:          

Wyk 26                         Marí Joubert

Diaken:  

Uitsig Noord                 Charmaine Cato

Dienswerkers:

Wyk 15                         Suzanne Steenkamp

Uitsig Noord                 Erka Rossouw

 

GR 4 – 6 BYBELLEESLYS 20 Mei – 26 Mei

2 Kron 21- 24 & 2 Kon 11-12God se WOORD is ‘n boek vol kosbare skatte!  Gebruik die tyd om as gesin saam deur die boeke van die Bybel te lees. 

In die Nuus