Deur : Skriba  /  May 27th, 2012

PINKSTER

Baie dankie aan almal wat gehelp het om van 2012 se Pinkster weereens ‘n belewenis te maak.

 

PINKSTERVERLOF

Ds NJ is die week met Pinksterverlof.

 

BELYDENISKLAS 2011

Ons besoek oudlidmate in Silwerkruin net na die oggenddiens.  Ons kry mekaar onder die boom voor die konsistorie.  Ons is 11:30 terug by die huis.

 

BYBELSKOOL!!!!!!!!!!  “SKATTEJAG”

Graad 1 – 6 kom ontdek die skatte in die Bybel  vanaf 25 – 29 Junie 2012 om 09:00 tot 13:00.  Die koste beloop R150-00.  Inskrywingsvorms is tot 20 Junie beskikbaar by die kerkkantoor en tannie Adell Erasmus.  Vir verdere navrae kontak Adell by 082 925 7190.  Graad 7 – 12’s meld asb by tannie Adell aan indien jy wil help by die Bybelskool.

 

FAMILIENUUS

Artikels moet asb die kerkkantoor of Christa van Rooyen christa@safj.co.za voor 30 Mei bereik.

 

INLIGTINGSESSIE MIDDELAFHANKLIKHEID

Op Vrydag 1 Junie om 18:00 in die konsistorie begelei ds Johan Eloff mense wat gemoeid is met mense wat afhanklik is van alkohol of dwelms.  Belangstellendes welkom.  Navrae Kobie Barnard 083 391 4858.

 

KLEINGROEPLEIERS VERGADER (BYBELSTUDIE EN GESINSGROEPE)

Maandag 4 Junie om 18:00 in Die Sentrum – met die oog op 40 Dae kursus en vermeerdering van kleingroepe.

 

JUNIE DANKOFFER

Die diakens/dienswerkers kollekteer nie gedurende Junie nie, maar sal aan u ‘n dankofferkoevert gee wat u op 3 Junie (Dankoffersondag) of later in die maand kerk toe bring.  “En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.”  2 Kor 9:8

 

FINANSIëLE POSISIE VAN GEMEENTE

Ons is tans R298 000-00 verskuldig op ons verband, hoofsaaklik agv die vervanging van Welvanpas se pastoriedak.  Danksy ekstra finansiële bydraes het ons die vorige boekjaar afgesluit met ‘n tekort van R62 000-00 ipv R80 000-00.  Ons begroot ‘n tekort van R161 000-00 vir hierdie boekjaar.  Die tekort is te wyte aan projekte en ondersteuning wat ons beplan bv ondersteuning aan Silwerkruin, ACVV Dienssentrum, Amosbediening, senior bediening (Vreugdediens), jeugbediening en nood in gemeente.  Daarom doen ons beroep op elke lidmaat om R10-00 pm ekstra te begroot vir dankoffer, dan wis ons die tekort uit.  “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het (beplan/begroot), nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”  2 Kor 9:7

 

BAIE DANKIE

Ek wil net elke engel in die gemeente bedank vir al die hulp, saamrygeleenthede, finansiële hulp, gebede en liefde wat ek so mildelik ontvang.  Julle maak die pad wat ek moet stap net makliker en meer draagbaar.  Dankie Jesus vir al die genade wat elke dag ontvang.  Liefdegroete.  Lynette Nel.

 

SUNFIELD KERSFONDS

Baie dankie vir almal se bydraes gedurende Pinkster – ons waardeer dit opreg namens Sunfield.  Tannie Hetta Cloete.

 

WILDSFEES 28 JULIE

Hou die vrieskaste oop vir heerlike wildswors en -vleis, dalk ook skaap en bees vanaf Middelburg.  As u wil woeker vir u basaartafel en/of projek vir die kerk, skakel met Danie Theart 021 873 1275 / 084 517 2610.  Ons gaan feesvier, lekker eet en kuier.  Vertel vir u vriende en familie in ander dorpe en gemeentes.  Middelburg bring die vleis en ons die voete.

 

‘N LEKKERRUIK GESKENKIE  VIR DIE SENDELINGVROUE IN MALAWI

Die Vrouediens (Getuienis) wil baie graag die vroue van sendelinge in Malawi bederf met ‘n lekkerruik geskenkie.  Ons sal dit so baie waardeer as u dalk vir ons kan help met ‘n lekkerruik sepie, handeroompie ens  wat ons saam met die uitreikgroep in Julie vir hulle kan stuur.  U kan dit by die kerkkantoor afgee of by die deure plaas.  Kontak Lounette van Niekerk 082 774 9039 / 021 864 3175.

 

BYEENKOMS VIR NUWE LIDMATE SONDAG 10 JUNIE

Almal wat dié jaar lidmaat van die gemeente geword het, word uitgenooi na tee in Die Sentrum direk na die oggenddiens.

 

KERSKAARTJIES VIR GEVANGENES

Die Vrouediens(Getuienis) wil baie graag vroegtydig begin om weer vanjaar vir elke gevangene in die Hawequa Gevangenis ‘n kerskaartjie te gee om oor die Kerstyd vir hulle geliefdes te stuur.  Die kerskaartjies kan gemaak word deur ‘n A4 blad in vier te vou en dan op die voor- kant  bv ‘n prentjie te plak of om dit met enigiets anders te versier.  Indien u dalk kans sien om ‘n kerskaartjie of meer te maak om ons daarmee te help, sal ons dit baie waardeer.  Ons wil graag weer 300 kaartjies vir hulle gee.  Kontak Lounette van Niekerk 082 774 9039 / 021 864 3175.

 

MEDIESE HULPFONDSE

Daar is 2 hulpfondse gestig – een vir Michelle Munnik en een vir Lynette Nel.  Indien u ‘n bydrae wil maak, skakel asb die kerkkantoor.  Sien die nuwe uitgawe van die Familienuus.

 

CV’S

Indien u op die uitkyk is vir werk, bring asb u CV na die kerkkantoor sodat dit beskikbaar is vir werkgewers met moontlike werksgeleenthede.

 

WERKGEWERS

Skakel asb die kerkkantoor indien u enige vakatures beskikbaar het.

 

SOPKOMBUIS MBEKWENI

Benodig droë bestandele soos pakkies droë bone, ertjies en sopmengsel.  U bydrae kan afgegee word by die kerkkantoor of Baby Botha, Mimosastr 1.

 

40 DAE – WANDEL IN DIE WOORD

Elke 40 dae veldtog in ons gemeenskap was tot dusver ‘n baie positiewe ervaring.  God het  lewens verander,  geestelike groei het plaasgevind en mense het  ‘n tuiste in ‘n kleingroep gevind.  Die volgende 40 Dae wat ons aanpak is “40 Dae in die Woord” deur Rick Warren van die Saddleback gemeente.  Die fokus van hierdie reeks is om ons as gemeentes, en jou spesifiek, uit te daag om weer erns te maak met die Bybel.  Vanaf 19 Aug tot 27 Sep 2012 bied die 3 NG gemeentes saam ‘n reeks van 6 preke aan waarby kleingroepmateriaal aansluit en wat in die daaropvolgende week in die groepe bespreek kan word.  Wat moet jy doen om die uitnodiging te aanvaar?  Kom skakel in by ’n groep (as plaas, besigheid, gesin, egpaar of selfs as individu). Vir 6 weke gaan die selgroepe onder leiding van gashere/vrouens regdeur die gemeenskap, weekliks bymekaar kom.  Die “groep” ervaring vorm die HART van die 40 Dae. Daarom vra ons dat jy met oorgawe deel sal word van ‘n groep vir die duur van die 40 Dae tydperk.  Alle groepe gaan vanaf 19 Augustus 2012 met ‘n kleingroep-werkboek “Wandel in die Woord” besig wees.  Nooi asseblief enige ander persoon of gesin uit.

 

VERLORE GOEDERE

Daar is verskeie items wat oor die jare agtergebly het na kampe ens wat nooit opgeëis is nie.  Indien dit nie teen einde Mei afgehaal word by die kerkkantoor nie, sal dit verkoop word.

 

ACVV PROJEK WINTERHOOP

Winterhoop is ‘n landswye veldtog in samewerking met kerke, RSG, KykNET, koerante en verskeie welsynsorganisasies, om die nood in ons land gedurende wintertyd aan te spreek.  Die tema vir 2012 is:  Warm harte met hande.  Die doel van Winterhoop is om ‘n beroep op die publiek te maak om kos, klere, komberse, toiletware en kospakkies in te samel en aan soveel moontlike behoeftige mense te versprei in die wintertyd.  Bydraes kan na die ACVV kantoor in Bainstraat 20 gebring word.  Navrae 021 873 2204.

 

DEUROFFER –  BYBELGENOOTSKAP

Hul doelstelling is om die Bybel beskikbaar te stel, sonder enige dogmatiese aantekening of kommentaar, aan elke leser in sy eie taal teen ‘n prys wat dit binne bereik van die armste bring.  Hul gereelde werksaamhede sluit vertaling, produksie en verspreiding in.  Hul word gefinansier deur kerke, organisasies, skole en individue.

 

GR 4 – 6 BYBELLEESLYS 27 Mei – 2 Jun

2 Kon 16:1-9, 2 Kon 17:1-23, 2 Kronieke 28God se WOORD is ‘n boek vol kosbare skatte!  Gebruik die tyd om as gesin saam deur die boeke van die Bybel te lees.

In die Nuus