Deur : Skriba  /  June 3rd, 2012

WELLINGTON-OOS SE EIE VROUEKAMP 2012

V/a 24 tot 26 Augustus in die Strand.  Die kostes beloop R300-00 pp.  Indien u belangstel, kontak Carien 021 873 2180 of die kerkkantoor.  Daar is net plek vir ‘n beperkte aantal vroue!

 

BYBELSKOOL!!!!!!!!!!  “SKATTEJAG”

Graad 1 – 6 kom ontdek die skatte in die Bybel  vanaf 25 – 29 Junie 2012 om 09:00 tot 13:00.  Die koste beloop R150-00.  Inskrywingsvorms is tot 20 Junie beskikbaar by die kerkkantoor en tannie Adell Erasmus.  Vir verdere navrae kontak Adell by 082 925 7190.  Graad 7 – 12’s meld asb by tannie Adell aan indien jy wil help by die Bybelskool.

 

PINKSTER 2012

Baie dankie aan al die damesgroepe wat die afgelope Pinkster ons bederf het met sop en brood.  Dit was heerlik om na ons Pinksterdienste so gesellig te kon verkeer.

 

KLEINGROEPLEIERS VERGADER (BYBELSTUDIE EN GESINSGROEPE)

Maandag 4 Junie om 18:00 in Die Sentrum – met die oog op 40 Dae kursus en vermeerdering van kleingroepe.

 

FINANSIëLE POSISIE VAN GEMEENTE

Ons is tans R298 000-00 verskuldig op ons verband, hoofsaaklik agv die vervanging van Welvanpas se pastoriedak.  Danksy ekstra finansiële bydraes het ons die vorige boekjaar afgesluit met ‘n tekort van R62 000-00 ipv R80 000-00.  Ons begroot ‘n tekort van R161 000-00 vir hierdie boekjaar.  Die tekort is te wyte aan projekte en ondersteuning wat ons beplan bv ondersteuning aan Silwerkruin, ACVV Dienssentrum, Amosbediening, senior bediening (Vreugdediens), jeugbediening en nood in gemeente.  Daarom doen ons beroep op elke lidmaat om R10-00 pm ekstra te begroot vir dankoffer, dan wis ons die tekort uit.  “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het (beplan/begroot), nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief.”  2 Kor 9:7

 

WILDSFEES 28 JULIE

Hou die vrieskaste oop vir heerlike wildswors en -vleis, dalk ook skaap en bees vanaf Middelburg.  As u wil woeker vir u basaartafel en/of projek vir die kerk, skakel met Danie Theart 021 873 1275 / 084 517 2610.  Ons gaan feesvier, lekker eet en kuier.  Vertel vir u vriende en familie in ander dorpe en gemeentes.  Middelburg bring die vleis en ons die voete.

 

‘N LEKKERRUIK GESKENKIE  VIR DIE SENDELINGVROUE IN MALAWIE

Baie dankie aan almal wat reeds lekkerruik geskenkies vir die sendelingvroue in Malawie geskenk het – dit help ons vreeslik baie.  Ons kort egter nog die volgende:  Vir die vroue: Handewas seep, sjampoe, lyfroom, handeroom, lyfpoeier, aques room, tandeborsels, tandepasta, waslappies, en handdoeke.  Vir die kinders: Tandeborsels, tandepasta (klein), dik vetkryte, inkleurboekies,  balle bv sokker en ander.  Kontak kerkkantoor of Lounette van Niekerk 082 774 9039 / 02 1864 3175.

 

BYEENKOMS VIR NUWE LIDMATE SONDAG 10 JUNIE

Almal wat dié jaar lidmaat van die gemeente geword het, word uitgenooi na tee in Die Sentrum direk na die oggenddiens.

 

KERSKAARTJIES VIR GEVANGENES

Die Vrouediens(Getuienis) wil baie graag vroegtydig begin om weer vanjaar vir elke gevangene in die Hawequa Gevangenis ‘n kerskaartjie te gee om oor die Kerstyd vir hulle geliefdes te stuur.  Die kerskaartjies kan gemaak word deur ‘n A4 blad in vier te vou en dan op die voor- kant  bv ‘n prentjie te plak of om dit met enigiets anders te versier.  Indien u dalk kans sien om ‘n kerskaartjie of meer te maak om ons daarmee te help, sal ons dit baie waardeer.  Ons wil graag weer 300 kaartjies vir hulle gee.  Kontak Lounette van Niekerk 082 774 9039 / 021 864 3175.

 

PASTORALE SPREEKKAMER

Ds George Conradie, ‘n kliniese pastorale terapeut, het ‘n spreekkamer by die kerk. U kan hom skakel by 021 875 5842 of 083 662 5126.

 

BREIPROJEK

Ons beplan om weer vanjaar truie, serpe, bedsokkies en musse te brei.  Enigiemand wat wil help brei, kan vir Suzanne Fabricius kontak by 021 864 1122 of 072 244 3931.  Wol sal ook welkom wees.

 

DUVETPROJEK

Die span is steeds arbeidsaam.  Help ons asb om kinders wat koud kry, warm te laat slaap.  Enige donasie van lap, “inners” (ook gebuiktes) of geld sal verskriklik welkom wees.  Kontaknrs is Elsa 021 873 0110 / 082 373 5853 of Cecilia 021 873 3163 of Louwtjie 021 873 2647.

 

MEDIESE HULPFONDSE

Daar is 2 hulpfondse gestig – een vir Michelle Munnik en een vir Lynette Nel.  Indien u ‘n bydrae wil maak, skakel asb die kerkkantoor.  Sien die nuwe uitgawe van die Familienuus.

 

CV’S

Indien u op die uitkyk is vir werk, bring asb u CV na die kerkkantoor sodat dit beskikbaar is vir werkgewers met moontlike werksgeleenthede.

 

WERKGEWERS

Skakel asb die kerkkantoor indien u enige vakatures beskikbaar het.

 

SOPKOMBUIS MBEKWENI

Benodig droë bestandele soos pakkies droë bone, ertjies en sopmengsel.  U bydrae kan afgegee word by die kerkkantoor of Baby Botha, Mimosastr 1.

 

ACVV PROJEK WINTERHOOP

Winterhoop is ‘n landswye veldtog in samewerking met kerke, RSG, KykNET, koerante en verskeie welsynsorganisasies, om die nood in ons land gedurende wintertyd aan te spreek.  Die tema vir 2012 is:  Warm harte met hande.  Die doel van Winterhoop is om ‘n beroep op die publiek te maak om kos, klere, komberse, toiletware en kospakkies in te samel en aan soveel moontlike behoeftige mense te versprei in die wintertyd.  Bydraes kan na die ACVV kantoor in Bainstraat 20 gebring word.  Navrae 021 873 2204.

 

GR 4 – 6 BYBELLEESLYS 3 Junie – 9 Jun

2 Kon 18:1-8, 2 Kronieke 29-30God se WOORD is ‘n boek vol kosbare skatte!  Gebruik die tyd om as gesin saam deur die boeke van die Bybel te lees.

 

40 DAE – WANDEL IN DIE WOORD

Elke 40 dae veldtog in ons gemeenskap was tot dusver ‘n baie positiewe ervaring.  God het  lewens verander,  geestelike groei het plaasgevind en mense het  ‘n tuiste in ‘n kleingroep gevind.  Die volgende 40 Dae wat ons aanpak is “40 Dae in die Woord” deur Rick Warren van die Saddleback gemeente.  Die fokus van hierdie reeks is om ons as gemeentes, en jou spesifiek, uit te daag om weer erns te maak met die Bybel.  Vanaf 19 Aug tot 27 Sep 2012 bied die 3 NG gemeentes saam ‘n reeks van 6 preke aan waarby kleingroepmateriaal aansluit en wat in die daaropvolgende week in die groepe bespreek kan word.  Wat moet jy doen om die uitnodiging te aanvaar?  Kom skakel in by ’n groep (as plaas, besigheid, gesin, egpaar of selfs as individu). Vir 6 weke gaan die selgroepe onder leiding van gashere/vrouens regdeur die gemeenskap, weekliks bymekaar kom.  Die “groep” ervaring vorm die HART van die 40 Dae. Daarom vra ons dat jy met oorgawe deel sal word van ‘n groep vir die duur van die 40 Dae tydperk.  Alle groepe gaan vanaf 19 Augustus 2012 met ‘n kleingroep-werkboek “Wandel in die Woord” besig wees.  Nooi asseblief enige ander persoon of gesin uit.

 

DEPRESSIEONDERSTEUNINGSGROEP

6 Junie 2012 om 19:15 in die Marthasaal.  Die spreker is dr Gert van Niekerk en die onderwerp “Anti-depressante: Skoonlief of Ondier?”  Kontakpersoon Petro  072 709 8000.

In die Nuus