Deur : Skriba  /  June 18th, 2012

PREDIKANTE VERLOF

Ds NJ is met verlof vanaf 22 tot 30 Junie.

 

WELLINGTON-OOS SE EIE VROUEKAMP 2012

V/a 24 tot 26 Augustus in die Strand.  Die kostes beloop R300-00 pp.  Indien u belangstel, kontak Carien 021 873 2180 of die kerkkantoor.  Daar is net plek vir ‘n beperkte aantal vroue!

 

BYBELSKOOL!!!!!!!!!!  “SKATTEJAG”

Graad 1 – 6 kom ontdek die skatte in die Bybel  vanaf 25 – 29 Junie 2012 om 09:00 tot 13:00.  Die koste beloop R150-00.  Inskrywingsvorms is tot 20 Junie beskikbaar by die kerkkantoor en tannie Adell Erasmus.  Vir verdere navrae kontak Adell by 082 925 7190.  Graad 7 – 12’s meld asb by tannie Adell aan indien jy wil help by die Bybelskool.

 

WELLINGTON WILDSFEES

Op Saterdag 28 Julie 2012 v/a 09:00 by Wellington-Oos.  Kom koop wildsvleis en -wors, biltong en ander interessante wildsprodukte vanaf Middelburg teen billike pryse.  Kom geniet ook pannekoek, worsrolle, roosterkoek en nog vele meer.  Vertel u vriende en kom hou lekker saam fees.

 

WILDSFEES VERBLYF

Indien u bereid is om van die Middelburgers te huisves tydens die Wildsfees op 28 Julie, skakel asb die kerkkantoor of Danie Theart 021 873 1275 /  084 517 2610.

 

MUSIEKBEDIENING

Paul Stemmet versoek dat diegene wat verantwoordelik is vir die musiekbediening dit asb reeds die voorafgaande Donderdag (op die laatste) moet bespreek met die betrokke persoon wat die klank doen.

 

40 DAE – WANDEL IN DIE WOORD

Vanaf 19 Aug tot 27 Sep 2012 bied die 3 NG gemeentes saam ‘n reeks van 6 preke aan waarby kleingroepmateriaal aansluit en wat in die daaropvolgende week in die groepe bespreek kan word.  Skakel die kerkkantoor as u bereid is om leiding te neem in ‘n groep of as u net wil inskakel by ‘n groep.  U kan ook inskakel by ‘n groter groep wat in Die Sentrum bymekaarkom.  Hulle sal daar saam na ‘n DVD kyk en dan in kleiner besprekingsgroepe verdeel.  Die boekie sal teen volgende kwartaal beskikbaar wees by die kerkkantoor @ R20-00.  Indien u egter meer oor die inhoud wil weet, is daar nou reeds ‘n voorbeeld by die kerkkantoor beskikbaar.

 

4X4 DAG OP 15 SEPTEMBER

Meer inligting sal later volg.  Navrae kan gerig word aan Bennie Smith 083 651 3305  /  info@kfcf.co.za

 

‘N LEKKERRUIK GESKENKIE  VIR DIE SENDELINGVROUE IN MALAWIE

Baie dankie aan almal wat reeds geskenkies vir die sendelingvroue in Malawie geskenk het – dit help ons vreeslik baie.  Ons kort egter nog die volgende:  Cremora, rooibostee, lekkers vir kinders, speelklei, gom, verf en kwassies, potlode en potloodkryt, Engelse storieboekies, springtoue, sokkerballe, waslappe en sepies.  Alles donasies moet asb voor 22 Junie by die kerkkantoor wees om te bepaal wat nog kort. Kontak kerkkantoor of Lounette van Niekerk 082 774 9039 / 021 864 3175.

 

KERSKAARTJIES VIR GEVANGENES

Die Vrouediens (Getuienis) wil baie graag vroegtydig begin om weer vanjaar vir elke gevangene in die Hawequa Gevangenis ‘n kerskaartjie te gee om oor die Kerstyd vir hulle geliefdes te stuur.  Die kerskaartjies kan gemaak word deur ‘n A4 blad in vier te vou en dan op die voorkant ‘n prentjie te plak of om dit met enigiets anders te versier.  Indien u kans sien om ‘n kerskaartjie of meer te maak, sal ons dit baie waardeer.  Ons wil graag weer 300 kaartjies vir hulle gee.  Kontak Lounette van Niekerk 082 774 9039 / 021 864 3175.

 

LOUWRENS VAN DER WESTHUIZEN – MAKHATHINI

Na ons aanvanklik ons behoefte vir stoele vir die nuwe kerkgebou by Othobothini bekend gemaak het,  het ons ‘n stap in die geloof geneem en ‘n groot bestelling van R57 957-60 geplaas – 250 stoele, 2 tafels, 60 stoele vir Mapaya gemeentesentrum en 200 stoeltjies en 60 tafeltjies vir die kleuterskole.  ‘n Totale bedrag van R58 422-40 is as skenkings ontvang, waaronder oa R3 940-00 uit Wellington Oos.   Baie besonders dat ons eie gemeente se vrouens R5 882-40 ingesamel het.  Met die orige geld kon ons ‘n donasie maak aan Dirk Opperman wat onderneem het om op eie koste die aflewering te doen (waarvoor R7 500-00 gekwoteer is!).  Ek wil vir almal wat ‘n bydrae gemaak het net BAIE DANKIE sê.  Laat ons saam die Here dank en loof, want Hy het waarlik voorsien !!!

 

LIBIë SE VERSKIESING VIR ‘N NASIONALE VERGADERING IS TOT 7 JULIE UITGESTEL

Bid dat die leiers wat verkies word die mense se belange op die hart sal dra en dat die Here hulle sal gebruik tot uitbreiding van sy Koninkryk.

  • Bid vir ‘n vreedsame verkiesing.
  • Ons gebedekandie toekoms van ‘n nasie verander….

 

BREIPROJEK

Ons beplan om weer vanjaar truie, serpe, bedsokkies en musse te brei.  Enigiemand wat wil help brei,kan vir Suzanne Fabricius kontak by 021 864 1122 of 072 244 3931.  Wol sal ook welkom wees.

 

DUVETPROJEK

Die span is steeds arbeidsaam.  Help ons asb om kinders wat koud kry, warm te laat slaap.  Enige donasie van lap, “inners” (ook gebuiktes) of geld sal verskriklik welkom wees.  Kontaknrs is Elsa 021 873 0110 / 082 373 5853 of Cecilia 021 873 3163 of Louwtjie 021 873 2647.

 

PASTORALE SPREEKKAMER

Ds George Conradie, ‘n kliniese pastorale terapeut, het ‘n spreekkamer by die kerk. Ukan hom skakel by 021 875 5842 of 083 662 5126.

 

MEDIESE HULPFONDSE

Daar is 2 hulpfondse gestig – een vir Michelle Munnik en een vir Lynette Nel.  Indien u ‘n bydrae wil maak, skakel asb die kerkkantoor.  Sien die nuwe uitgawe van die Familienuus.

 

CV’S

Indien u op die uitkyk is vir werk, bring asb u CV na die kerkkantoor sodat dit beskikbaar is vir werkgewers met moontlike werksgeleenthede.

 

WERKGEWERS

Skakel asb die kerkkantoor indien u enige vakatures beskikbaar het.

 

SOPKOMBUIS MBEKWENI

Baie dankie aan almal wat voorraad geskenk het – dit word opreg waardeer.  Baby Botha.

 

ACVV PROJEK WINTERHOOP

Winterhoop is ‘n landswye veldtog in samewerking met kerke, RSG, KykNET, koerante en verskeie welsynsorganisasies, om die nood in ons land gedurende wintertyd aan te spreek.  Die tema vir 2012 is:  Warm harte met hande.  Die doel van Winterhoop is om ‘n beroep op die publiek te maak om kos, klere, komberse, toiletware en kospakkies in te samel en aan soveel moontlike behoeftige mense te versprei in die wintertyd.  Bydraeskan na die ACVV kantoor in Bainstraat 20 gebring word.  Navrae 021 873 2204.

 

DRAKENSTEIN TRANSFORMASIE

U word vriendelik uitgenooi na die maandelikse vergadering van die Transformasie Beweging wat sal plaasvind op 21 Junie 2012  v/a15:00 tot17:00 by die Koffiewinkel van diePaarlFamilyChurch in Hoofstraat, Paarl, regoor Checkers.  Laat weet asb die kerkkantoor indien u die vergadering wil bywoon.

 

DEUROFFER – INSTITUUT VIR BLINDES

Die Instituut vir Blindes is in 1881 deur die NG Kerk gestig en streef vandag daarna om persone wat blind, swaksiende, doofblind en siggestremd is met bykomende gestremdhede deur opleiding, ontwikkeling en versorging tot ‘n vervulde lewe en volle burgerskap te bemagtig.  U voorbidding word gevra vir die werk wat hier gedoen word.  U kan help deur ‘n siggestremde in diens te neem en deur van ons selfvervaardigde produkte (beddens, matrasse, rottang items) te koop.

In die Nuus