Deur : Skriba  /  February 10th, 2013

BELYDENISKAMP

V/a 22 – 24 Februarie te Langebaan.  Ons vertrek Vrydag 16:00 v/a Die Sentrum en arriveer Sondag 13:00.

 

BELYDENISKLAS OUERS

Ontmoet asb vir ds NJ Sondag 17 Febr net na die oggenddiens voor die preekstoel.

 

COKE-COLA KATEGESEKAMP GR 4 – 7

Lekker by die see!!!!!!!!!!!!!!  V/a 15 – 17 Febr by Kleinmond.  Die kostes is R300-00 per kind en inskrywingsvorms is beskikbaar by die kerkkantoor, Hugenote Laer en Hugo Rust.  Inskrywings sluit Woens 13 Febr.  Ons benodig beskuit vir die kamp – indien daar flukse mammas is wat vir ons beskuit sal bak, sal dit baie gaaf wees.  Vir verdere navrae kontak Adell Erasmus 082 925 7190.

 

WêRELDBIDDAG VIR VROUE

Word hierdie jaar op Donderdag 28 Febr om 19:00 by Wellington-Oos aangebied. Die spreker is Amanda Swanepoel, predikantsvrou van Melkbosstrand, en die tema is “Ek was ‘n vreemdeling en jy het my verwelkom.”

 

WêRELDBIDDAG VIR MANS

Manne ontbyt op 2 Maart om 07:00 by die Spur.  Dit is ‘n geleentheid waar ons saam luister en saam met manne vir die wêreld bid en lekker saam eet.

 

WARE MAN – “AUTHENTIC MANHOOD II”

V/a 13 Febr 2013 elke Woensdag v/a 19:00 – 20:00 in die kerk.  Bring jou eie “travel mug” met iets te drinke daarin.  Ons gaan kyk  na ‘n DVD met praktiese wenke vir die man oor sy verhoudings en sy christelike veranwoordelikhede by die werk. Die kursus is gratis en navrae kan gerig word aan Herbert Sills 082 374 3146.

 

MAKHATHINI

Die Makhathini-Vennootskapsvergadering vind vanjaar plaas op Sat  16 Maart te Riversdal. Daar is nog plek vir twee persone. Belangstellendes kan met ds Jan of Wynand Lambrechts 083 454 5650 skakel. Indien iemand kan help met slaapplek op Riversdal, Stilbaai of Jongensfontein vir Vrydagaand 15 Maart, laat weet asb vir ds Jan of Wynand.

 

NISMUUR

Die plekke in ons nismuur is nog tot einde Februarie te koop @ R1 610-00.  V/a 1 Maart 2013 verhoog die prys na R1 770-00.

 

SAMEWERKING MIDDELBURG

Ons beplan reeds aan projekte waarin ons in 2013 met Middel- burg kan saamwerk, dis Pa-en-Seun jagte, jagspanne, snoekbraai en die Wildsfees self. Die eerste ontmoeting is Maandagoggend 11 Febr om 09:00 by Johan Visser in Hofmeyerstraat 5.  Elkeen wat op een of ander wyse betrokke wil raak is welkom om Danie Theart 084 517 2610 te skakel.

 

BASAAR – MARKTAFEL

Groep 6 woeker vir die basaar en gaan poeding verkoop in Die Sentrum op Sondag 24 Febr na die oggenddiens.  Kaartjies moet vooraf gekoop word by die kerkkantoor.

 

HUIS ANDREW MURRAY

Die jaar 2013 is weer volstoom aan die gang.  Ons kinders is terug na die vakansie en ons is besig om dinge te beplan om ook in 2013 in ons kinders se nood te kan voorsien om VOLUIT TE LEEF.  Die vlg is behoeftes van Huis Mopanie (wat deur die gemeente van Wellington-Oos ondersteun word):  “nuwe” sitkamerstel (nog stewig en sterk), waaiers, lessenaar, klerekas en swart gordels vir seuns (65/70cm).  Verder benodig ons ook vrugte vir ons vrugtefees op 15 Febr , entoesiastiese gasvrouens vir ons Vrouetee in Julie, verf vir geboue, slaapsakke, iemand wat swemlesse vir die kleinspan kan gee en iemand wat naaldwerk kan doen (naamlappies aanwerk/aftorring).  Ons het ook in samewerking met die Universiteit van Stellenbosch `n arbeidsterapie afdeling op ons terrein begin waar ons van studente wat prakties doen gebruik maak vir arbeidsterapie onder leiding van hul dosente en mev Juanita Badenhorst, opgeleide arbeisterapeut.  Ons kan dus ons nuwe kinders wat inkom dadelik evalueer en deurlopend hulp gee met arbeidsterapie.  Ons poog ook om te bespaar op kostes met die projek en kinders hoef nie in klastyd onttrek te word vir arbeidsterapie nie.  Indien u opvoedkundige speelgoed, legkaarte, hoepels en balle in u huis het wat u nie meer gebruik nie, sal ons dit met graagte ontvang.  Indien u wil hê ons moet dit kom haal, kan u ons  kontak.  Baie dankie dat ons weereens op u kan staatmaak om te voorsien in ons behoeftes.  Vir verdere inligtin skakel Elsabe Saurman by 021  873 3834.

 

ACVV DIENSSENTRUM VIR BEJAARDES HOU BASAAR

Op 1 Maart 2013 van 08:00 – 12:00 in Wellington Moedergemeente se saal.  Kom ondersteun ons asb – daar is heerlike tuisgebakte produkte, boereworsrolle, basaarpoeding, pannekoek, vars groente  en vrugte en ‘n “witolifant” tafel.  Indien daar persone is wat graag ‘n bydrae wil maak in die vorm van bestanddele, gebak, poedings, ingemaakte produkte, groente, vrugte, iets vir die witolifanttafel of kontant sal ons dit opreg waardeer.  Kontak asb vir Janet by die Dienssentrum 021-8734682, 0828501197 of  Helen Palm 021-8734181.

 

NB4

Werk- en loopbaansekuriteit raak ’n al hoe skaarser verskynsel.  Al hoe meer mense besef en beleef dat magte en kragte buite hul beheer bepaal of hulle volgende maand of jaar nog ’n werk gaan hê. Ekonomiese en politieke werklikhede, sowel as korporatiewe besluitneming, plaas mense dikwels in die spervuur van afdanking, aflegging en om oorbodig verklaar te word.  NB4 is ’n inisiatief wat daarop gemik is om die behoeftes van mense wat in sulke omstandighede verkeer, aan te spreek.  NB4 skep onder meer gespreksforums waar mense geleentheid kry om na mekaar te luister en hul ervarings met mekaar te deel. Sodoende ervaar hulle ’n tuiste tussen mense wat hulle verstaan, kan raadgee en saam met hulle kan bid. Dis ook ’n plek waar mense gehelp word om weer hul kop op te tel, hul gesinne in die oë te kyk, hul selfbeeld te kan herstel en met ‘n positiewe gemoed weer nuwe werkgeleenthede te soek.  Bekendstelling is Maandagaand 11 Februarie om 19:00 in die NG Noord ontspanningsaal.  Vir meer inligting skakel Johan Crous (021) 873 7024 of 072 289 0842.

 

BRAND IN MBEKWENI

Indien u dalk beddegoed, breekgoed of baba- en kinderklere (of enige iets anders) by die huis het wat u nie meer gebruik nie, kan u dit na die kerkkantoor bring.

 

SONDAG SONDER SKOENE

Op Sondag 3 Mrt kan u sonder skoene kerk toe kom om te voel hoe dit is om sonder skoene te wees.  U kan ook skoene wat u wil skenk, saambring kerk toe.

 

DEUROFFER:

Zimbabwe:  Ons staan telkens verbaas oor hoe die mense van Zimbabwe oorleef en hul bestaan probeer normaliseer te midde van die politieke en ekonomiese swaarkry.  Daar is tog tekens dat die regering van nasionale eenheid op plaaslike regeringsvlak voordeel vir die mense gebring het.  Onderwys en mediese dienste gaan voort.  Die RCZ (Reformed Church in Zimbabwe) het hul sinodesitting in Augustus gehad en die gemeentes werk met ywer om omgee-gemeenskappe vir gelowiges te wees.  Baie lidmate van die kerk in Zimbabwe bevind hulle in Suid-Afrika en onlangs het die RCZ ‘n leraar aangestel om veral lidmate in Kaapstad en Johannesburg te versorg.

Mosambiek:  In die noorde van Mosambiek is daar in die onlangse tyd groot neerslae van grondstowwe ontdek.  In die Tête-provinsie is dit veral steenkool, maar ook ander edelmetale.  In die noordooste van die land is olie en gasvelde ontdek en die ontginning daarvan gaan in die volgende vyf jaar plaasvind.  Paaie word gebou en honderde mense kry tydelike indiensneming.  Vir die IRM (Igreja Reformada em Mozambique) is die uitdaging om met hul bediening op die groeipunte te fokus.  Die teologiese skool, Hefsiba by Vila Ulongue, het hul kursusse uitgebrei om ook besigheidsvakke aan te bied en wil daardeur besigheidsleiers vorm wat Christelike etiek navolg.

Malawi:  Die nuwe regering van mev Joyce Banda het alreeds ‘n tasbare verandering in die land meegebring.  Daar is ‘n gemoedelike en ontspanne atmosfeer, brandstof is geredelik beskikbaar en daar is sterk aanduidings dat buitelandse verhoudinge herstel word.  Die geldeenheid moes ongelukkig met bykans 50% gedevalueer word wat verbuikerspryse aansienlik laat styg het.  Brandstof kos oor die R16 per liter.  Die CCAP (Church of Central Africa Presbyterian) Nkhoma het in 2012 50 jaar van selfregering gevier nadat die NG Sending in 1962 die eiendomme en administrasie aan die kerk oorgedra het.  Die CCAP bly steeds trots op sy verlede en volgehoue verbintenis met die NG Kerkfamilie in die Wes-Kaap.

In die Nuus