Deur : Skriba  /  September 8th, 2013

SPESIALE KERKRAADSVERGADERING

Sondag 15 September direk na oggenddiens in die konsistorie vir die verkiesing van kerkraad vir vakante wyke.

 

BELYDENISKAMP

Ons kamp van Sat 14 Sept om 17:00 tot Son 15 Sept om 11:30.

 

G-VOUCHER PROJEK

U kan G-Vouchers by die kerkkantoor koop en self vir mense in nood gee of u kan die koepons by die Posduifklub agter Moederkerk afgee en dan net die bedelaar van Maandag – Vrydag na die Posduifklub stuur.  Om 12:00 word hulle geestelik bedien, kry kos en moet help met opruiming.

 

EREDIENSTYE

Let asb daarop dat die eredienstye soggens vanaf 6 Oktober verander na 09:00.

 

BASAARLYSTE

U ouderling sal u gedurende Sept besoek met 2 lyste – een waarop die vrou produkte kan skenk en ‘n mannelys waaarop die man kontant kan skenk.  Dink solank wat u wil bydra.  Die basaar is 26 Okt.  ‘n Helpende hand en mooi en gewillige gesindheid word waardeer.  Saam maak ons dit ‘n fees tot eer van die Here.  Wenke is welkom:  voorsitter van basaar is Pieter du Toit 021 864 1665 / 083 638 9823.

 

40 DAE AFSLUITING

Die 40 Dae Reis van Romeine 12 sluit af op Don 12 Sept om 19:00 in Moedergemeente se kerkgebou.  Dit is ‘n aanbiddingsgeleentheid en Johan Enzlin, Winand Grundling, André Terblanche en die Limietberg Kamerkoor tree op.  Almal is baie welkom.

 

FIETSTOER 20 – 22 Sept

Ons ry vanjaar ten bate van me Estie Marais, ’n onderwyseres van Hugenote Hoërskool vir haar mediese uitgawes vir kankerbehandeling.  Ons ry van Slanghoek na Bonnievale deur Rawsonville en Robertson.  Almal wat wil saamgaan, kry ’n borgvorm by die kerkkantoor of ds Jan.  Ons benodig beskuit en koekies vir die toer – indien u wil skenk, kontak asb Ansa Oosthuizen 082 562 3604.

 

GEMEENTEBIDUUR WOENSDAE 09:00 IN KONSISTORIE

Indien u gebedsversoeke wil deurgee, skakel gerus met Steenkamp Claassen 021 873 3163 083 650 8104.

 

MIDDELBURG WILDSWORS EN –MAALVLEIS

Daar is nog heerlike wildswors @ R30-00/500g en wildsmaalvleis @ R25-00/500g te koop by die kerkkantoor gedurende kantoorure en ook Woensdagaande tussen 18:00 en 19:00.

 

SUNFIELD VERVOER

Ons is opsoek na persone wat bereid is om 1 X ‘n kwartaal te help met die vervoer van Sunfield inwoners na die aanddiens.  Ons maak gebruik van Sunfield se vervoer.  U moet verkieslik in besit van ‘n PDP wees.  Kontak Adell Erasmus 082 925 7190 indien u kan help.

 

NIEU-BETHESDA UITREIK

Ons Laerskool jeug reik uit na 80 kinders gedurende die Sept vakansie. Ons bied ‘n Bybelskool vir hulle aan.  Indien u ‘n kontant bydrae tov brandstof / verblyf wil maak of balle, vetkryte, sportapparaat (gebruikte) ens wil bydra, kan u dit by die kerkkantoor inhandig (gemerk Nieu Bethesda) of Adell Erasmus skakel 082 925 7190.  Baie dankie vir u ondersteuning.

 

4X4 DAG

Sou plaasgevind het op Saterdag 7 September, maar as gevolg van die weer en die nat toestand van die roete is dit uitgestel tot 19 Oktober.  Hou dié spasie dop vir meer inligting.

 

MANNEKAMP 2013

Is afgestel weens gebrek aan belangstelling.

 

BASAAR MARKTAFEL

Groep 6 benodig asb al die ou hout klerehangers wat in u huis rondlê en nie gebruik word nie.

 

NUUS VAN MIRIAM

Miriam is tans besig om die vertaling van artikels oor die Pastorale versorging van medewerkers in die Sending wat traumatiese ervarings beleef het, te fasiliteer.

Sy vertrek Son 8 Sept na Spanje om te help met ‘n kursus om mense voor te berei om in Moslemlande te woon en werk.

* Bid asb vir almal wat by die kursus betrokke is: personeel en studente.  Bid dat elkeen ‘n ontmoeting met Jesus sal hê in die tyd.

* Bid asb vir die Here se beskerming oor haar en dat Sy wil in haar lewe sal geskied.

* Bid ook vir haar geliefdes tuis dat hulle Sy vrede in hul harte sal ervaar.

Miriam se nuusbrief vir Sept is nou by die kerkkantoor beskikbaar.

 

KERSKAARTJIES VIR GEVANGENES

Baie dankie vir die Kerskaartjies wat ons reeds ontvang het.  Ons wil graag weer 600 kaartjies gereed kry om aan Hawequa en gevangenisse in die omgewing uit te deel om aan hulle geliefdes oor Kerstyd te stuur. Baie dankie vir elkeen wat ‘n kaartjie/s kan maak om ons te help.  Kontak Lounette van Niekerk  021 864 3175 / 082 774 9039.

 

KLINIESE PASTORALE TERAPEUT

Ds George Conradie wat ‘n kantoor in ons kerkgebou gehuur het, het getrek na Malanstraat 11, binne dieselfde huis as die fisioterapeut Elmarie van Coller.  Hy kan gekontak word by 083 662 5126.

 

FETALE ALKOHOL SINDROOM-DAG MAANDAG 9 SEPT

Klokke word wêreldwyd om 09:09 gelui om vroue daaraan te herinner om nie gedurende die 9 maande van swangerskap alkohol te gebruik nie.

 

STELLENBOSCH STUDENTEKERKKOOR

Graag wil ons by Canticum ons opregte dank betuig vir die vriendelike ontvangs wat ons by jul gekry het tydens ons besoek aan Wellington.  Ons rig  ook graag ‘n uitnodiging aan die gemeente om ons Prestige Konsert op 11 Oktober by te woon.  Vir verdere inligtig kontak Suria Burger 084 251 1747  /  suriaburg@gmail.com

 

DIEPER

‘n Kursus vir aanbiddingsleiers word aangebied in die Kaap 18 & 19 Sept.  Belangstel- lendes kan die kerkkantoor skakel.

 

INTERKERKLIKE BIDUUR VIR HERLEWING EN SENDING

Hierdie maand se gebedsimfonie verskuif na 15 Sept om 15:30 as gevolg van die Ringsitting.  Almal wat verlang na herlewing en wat vir sendelinge bid, is baie welkom by Eerste Laan 22. Bring jou eie gebedsonderwerpe saam. Vir navrae bel ds Attie van Wijk 082 557 9796.

 

HUIS ANDREW MURRAY KERSFEES SKOENBOKSPROJEK IN AUGUSTUS – DIT KLINK NET NIE REG NIE!!!

As jy egter 150 kinders het, moet jy vroeg begin beplan om vir elkeen `n geskenkie te kan gee en as die skole `n week vroeër sluit, moet die kerspartytjie `n week vroeër gehou word – so dis die rede hoekom ons nou al begin dink aan Kersfees.  Die doel van die projek is om vir elke kind ‘n geskenk te kan gee tydens ons jaarlikse Kerspartytjie op 23 Nov.  Indien u geroepe voel om `n skoenboks te vul met items vir `n geskenk, kan u my kontak.  U kan noem vir hoeveel skoenbokse u kans sien en ek sal vir u name en ouderdomme van kinders verskaf.  U kan slegs vir een kind ook gee.  Aangesien skoenbokse deesdae `n skaars item is, kan u ook van `n geskenksakkie gebruik maak.  Ons webwerf: www.andrewmurray.org.za verskaf `n wenslys met items, waarmee u die skoenboks kan vul.  Indien u klere en skoengroottes benodig, kan u my kontak.  Ons sal graag die skoenbokse wil ontvang teen Vrydag, 8 Nov.  Baie dankie dat ons weer eens kan vra vir die projek – ons is elke jaar verbaas om te sien hoe mense se harte oop is vir ons kinders.  Elsabe Sauerman 021 873 3834/5 / elsabe@andrewmurray.org.za

 

WEEK VAN GEBED – 7 DAYS ON THE WALL

 ‘n Aksie van Jerigo Mure saam met Drakenstein Gemeentes.  ‘n Paar gemeentes, onder die vaandel Paarl Churches United, het besluit om ‘n gesamentlike aksie te loods vir die  Week van Gebed. V/a 8-15 Sept (Sondae 17:00 en weeksdae 19:00) by die Charis Worship Centre ( ou Planet teater), Klein Drakensteinweg, Paarl.  Vir meer inligting kontak past Jerome September 084 358 8775 of 021 862 7340.

In die Nuus