Deur : Skriba / March 22nd, 2016
GEBEDSBULLETIN
“Jy moet besef: Hy wat berge vorm en die wind skep, Hy wat sy gedagtes aan die mens bekend maak, Hy wat die dagbreek donker maak, Hy wat oor die hoogtes van die aarde gaan, sy Naam is Here, almagtige God!” Amos 4:13
Sondag: Verootmoediging: Ebenhaëser – tot hiertoe het die Here ons gehelp – Wellington-Oos 43 jaar van louter genade en oorvloedige seën! Kom ons loof die Here vir hierdie plek van samekoms wat vir soveel gelowiges ’n geestelike tuiste bied. Vra dat Hy ons gemeente verder sal lei en bewaar. “Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting! Dan sal julle My aanroep, tot My kom bid en Ek sal julle gebede verhoor”. Jer. 29:12
Maandag: Oor grense heen: Ds. Jan het verwys na die verhouding van gelowiges “oor grense heen” en miskien moet ons bid dat gelowiges sal leer om in Wellington ekumenies saam te werk oor alle grense heen. Kom ons wy ons Paastyd daaraan om met toewyding verhoudings te begin bou met gelowiges veral in ander kulture as ons eie. “Dan sal ons, sy kerk, soos ’n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. … en so bou die liggaam homself op in liefde”.Ef. 4:13 en 16
Dinsdag: Reën : Ons volhard in Maart om te bid vir reën in ons dor land en vra die Here om so te gee dat ondergrondse waterbronne weer aangevul word deur deurdringende reën en sneeu op sy tyd. Ons bid; “Here doen wat die eer van u Naam vereis!” Eseg. 20:14