Deur : Skriba  /  April 11th, 2016

UIT DIE PEN VAN ‘N VROU

Die afgelope maande is ons toenemend gebombardeer met  donker, verdoemende nuus, hetsy deur die radio, die TV of koerante. Ons sien daagliks hoe die stewige pilare van integriteit en waardes en wedersydse vertroue en respek om ons begin tuimel. Hoe rentekoerse styg en ons spaargeld al minder word en die verdoemende bedreiging van rommelstatus oor ons land hang. Ons moes geskok toekyk hoe kampusse by verskeie universiteite oornag in oorlogsones omskep word. Hoe wantroue en angs ons gemoedere vul.  ‘n Donker wolk trek oor die drome vir ons kinders.

 

Dit is die harde realiteit. So, nou is die vraag: Raak ek ook meegesleur, of kan ek n verskil maak? Hoe op aarde kan ek my blokkie brei om deel te vorm van die groot lappieskombers van warmte en omgee, terwyl die donker wolk van toenemende armoede, kommer, woede  en angs oor ons land hang?

 

Ek kan stil word en besef dat ons almagtige  God al hierdie dinge toelaat met ‘n doel. Wil Hy ons elkeen dwing tot selfondersoek? Ek kan verby die bedreigings om my kyk, ‘n instrument word in Sy hand. Ek kan opnuut luister na Sy woorde van nederigheid en liefde. Opnuut kyk na die voorbeeld wat Jesus hier op die aarde vir ons kom stel het. Ek kan allereers  seker maak dat ek nie deur ‘n rassebril na die mense om my kyk nie.

 

Dat ek die swart man uit Kenia, uit  Zambië, uit Mosambiek daar by die vulstasie raaksien. Wat is sy naam? Het hy ‘n gesin daar ver?  Hoekom het hy na Suid-Afrika gekom? Of die vrou met die dowwe oë en strak gesig agter die kasregister in die supermark.

 

Hoe ver moet sy soggens reis om betyds by die werk te kom? Hoe laat kom sy vanaand tuis? Het sy jong kinders?Kan ek haar prys vir flink diens of die netjiese manier waarop sy my inkopiesak pak? En wat vra dit van my om die bruin of swart vrou wat laatmiddag met swaar sakke en moeë voete aansukkel, op te laai en na haar huis te neem, ‘n bietjie uit te vra of te bemoedig?

Feit is, ek KAN n verskil maak, hoe klein ook al. Ek KAN ‘n werktuig raak in Sy hand en fyn luister na Sy leiding.

Louise

In die Nuus