Deur : Skriba / November 6th, 2017
GEBEDSBULLETIN 5 NOVEMBER 2017
“Maar ons leef in die verwagting van ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” 2 Pet 3:13. Ons Gesinsgroep is nou besig met Petrus uit ’n boek van Johan Smit – wat ’n reis!
Sondag: Bankgebed of wydingsgebed voor u stiltetyd. Vra die Here om die verwagting waarna Petrus hierbo verwys, by u te vestig sodat u met hoop kan lewe(Heb 6 en 10) en aan ander die boodskap van hoop kan verkondig.
Maandag: Matrieks en eksamen. Die media probeer elke dag nou aandui hoe dit met die vorige dag se vakke gegaan het en of dit billik, maklik of Grieks was! Laat dit u herinner om vir hulle te bid, indien u iemand ken gaan besoek hulle en toon belangstelling. “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond” Ps 119:103 “So smaak die kennis, die wysheid ook; as jy die gekry het, het jy ʼn toekoms, en jou hoop sal jou nie ontneem word nie” Spr 24:14
Dinsdag: Mense sonder hoop. Uit nasionale gebedsbriewe blyk dit dat talle mense met finansies en ander probleme sukkel en net nie uitkoms sien nie. Kom ons bid vir mense wat om een of ander rede hoop verloor het en moedeloos geraak het. Die aarde en alles daarop behoort aan die Here en Hy kan uitkoms gee in die donkerste omstandighede, bid daarvoor en herinner die Here aan sy beloftes. “Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” Ps 68:20
Woensdag: Boere wat oes. Sommige boere samel die oes in met groot kommer in hul harte, ander juig weer “as hul die gerwe dra”.Die vrugteboere verwag ook ’n moeilike seisoen. Kom ons vra die Here om gunstige omstandighede te skep sodat oeste ingesamel kan word en die ekonomie daarby kan baat. “Maak my(hulle) ʼn voorbeeld van U goedheid. U, Here, is ʼn barmhartige en genadige God.” Ps 86: 17 en 15.
Donderdag: Mexiko Gelowiges in Mexiko kry swaar omdat hulle uit sekere stede verban word indien hul nie hul geloof in Jesus Christus wil prysgee nie. Dan word die land geteister deur storms ongekend, te midde daarvan is daar gelowiges wat deur Geopende Deure baie dankie sê vir gebedsondersteuning in die moeilike tye: “U gebede is soos balsem” sê hulle. “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor” Miga 7:7
Vrydag: Geestelike leiers. Hierdie week bid ons vir hulle en hulle gesinne. Vra die Here om vir hulle vrede, blydskap en vreugde te gee en ʼn ervaring van sy teenwoordigheid dag vir dag. “U omsluit my van alle kante, U neem my in besit” Ps 139:5
Saterdag: Lofprysing “Ek wil U met my hele hart loof. Laat die gode maar hoor ; dit is tot u eer dat ek sing. Ek wil na u heilige tempel toe buig en u Naam roem om u liefde en trou, want U het u Naam en u woord bo alles gestel. Ps 138: 1