Deur : Skriba / April 13th, 2018
GEBEDSBULLETIN 15 April 2018
“En Ek sal die gawe wat my Vader beloof het, vir julle stuur. Maar julle moet in die stad bly totdat julle met die krag van bo toegerus is” Luk 24:49
Sondag: Huis van gebed.
Wat beteken dit dat die Kerk ʼn huis-van-gebed sal wees? Dit is ʼn leefstyl van gebed en verootmoediging, wat jou totale afhanklikheid van die Here sal bevestig. Ons bid: Vader ons het so ʼn wanbegrip oor gebed. Tog moedig U ons keer op keer weer aan om te bid. Vergewe tog asseblief ons biddeloosheid en gee ons weer die gawe van dag-en-nag gebed.
Maandag: Bediening
Ons is by Getuienis baie afhanklik van u voorbidding. Ons het ʼn noodroep vir mannekrag om die werk te doen, toegeruste sendelinge om te gaan, fondse om die projekte te finansier, voorbidders om sendelinge se arms omhoog te hou. Gee asb vir ons ʼn aanduiding indien u nuusbriewe van sendelinge wil ontvang en dankie vir u ondersteuning met die Fish Platter ete.
“Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges” Ef 6:18.
Dinsdag: Nood
Bejaardes beleef ʼn kruipende nood wanneer hul ervaar dat hul beskikbare fondse binnekort nie meer in hul basiese behoeftes kan voorsien nie. Dit is traumaties veral indien daar nie verdere moontlikhede vir inkomste bestaan nie. Kom ons bid dat gelowiges die nood sal opmerk en maniere sal vind om te help.
“Ek was oë vir die blindes, en voete vir die kreupeles, ek was ʼn vader vir die armes, ek het selfs onbekendes se regsaak behartig” Job 29:15 & 16.
Woensdag: Kleingroepe.
Daar is ʼn verskeidenheid kleingroepe in ons gemeente, ons vertrou dat u op een of ander wyse aan ten minste een verbind is – gebedsgroepe, wyksbyeenkomste, gesinsgroepe, Bybelstudie, en nog meer. Bid asseblief vir die byeenkomste en die leiding van die Heilige Gees by elke geleentheid. Bid dat die Gawes van die Gees ook hier duidelik sigbaar sal raak tot opbou van die Liggaam van Christus. Rom 12:6 “Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het”.
Donderdag: Polisie en ander Beskermingsdienste:
Dank die Here vir die sukses wat die polisie onlangs gehad het in die opsporing van dwelms in transit en smokkel van hulpbronne uit die see. Bid asb. dat hul suksesvol sal wees in hul pogings om misdaad te voorkom. Bid vir alle ander beskermingsdienste dat hul hul funksie van beskerming suksesvol sal uitvoer. “Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting, U is my troue God. (vers 18) ..want U is my veilige vesting, ’n skuilplek in tyd van nood”. Ps. 59 : 18 en 17
Vrydag: Geestelike Leiers:
Dank die Here vir die geestelike leiers waarmee Hy ons gemeente geseën het en dank hom ook vir die gekoppelde leraars wat die gemeente met hul gawes dien. Ons bid deur die derde vers van Lied 485: “Maak deur u laaste opdrag wat soveel vreugde bring, ons arbeid tot seën, laat liefde ons ook dring. Bring mense tot bekering, wil u gemeente bou. En laat ons, Here, u lering van harte onderhou”.
Saterdag: Lofprysing:
“Ek wil dink aan u wonderdade van vroeër. Ek wil nadink oor al u werk en oor al u dade peins. Alles wat U doen, is heilig, o God. Waar is ’n god so groot soos U?” Ps. 77:13
@@@