Deur : Skriba / April 30th, 2018
Gebedsbulletin 29 April 2018
“Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is; lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig”. Ef. 4:23 en 24
Sondag: Verootmoediging: ’n Prediker het in Mei 1991, met voornoemde teksvers as basisteks, gesê dat as God sy Gees van ons bedrywighede onttrek, sal 95% van al ons bedrywighede nog onverstoord voortgaan. Dink daaroor, bid daaroor en vra weereens dat God u sal vul met sy Gees. “..laat die Gees julle vervul….sing met julle hele hart tot eer van die Here”. Ef. 5:18 lees ook Ef. 5:10 “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aannneemlik is”.
Maandag: Geloofsoffers: By die Getuienisbediening kon ons die vorige jaar sowat R80 000 ekstra aanwend tot die ondersteuning van sendelinge en hul aksies. Bid asseblief dat die Here in die komende jaar, weer die fondse sal voorsien en die insig om dit op die mees doeltreffende wyse aan te wend. “As die goeie wil daar is en iemand gee volgens wat hy het, neem God die gawe aan”. 2 Kor. 8:12
Dinsdag: Reën: Ons is baie dankbaar vir die goeie reëns wat oor ’n wye gebied geval het en soos ek hier skrywe(Dinsdag) is daar belofte van nog wat kom! Kom ons gaan verantwoordelik om met wat ons het en indien u dit enigsins kan bekostig vang reënwater op! Kom ons dank die Here vir die reën en leef in die geloof dat dit verder sal reën. “Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Ons vertrou op U,want dit is U wat al hierdie dinge doen”. Jer. 14: 22.
Woensdag: Vervolging Noord-Korea: Positiewe tekens uit Noord-Korea is dat die regering ingestem het om geen verdere kerntoetse uit te voer nie en skakeling met die Weste te begin. Kom ons bid dat die momentum ook sal oorskuif na die vervolging van Christene en dit sal staak. N-K bly nommer een op die wêreld ranglys van gebiede waar vervolging van gelowiges die ergste voorkom. “Toe beveel hy sy seun ….en … om die
skrywer Baruk en die profeet Jeremia te arristeer. Maar die Here het hulle weggesteek”. Jer. 36: 26.
Donderdag: Pinkster 2018: Beheer deur die Gees: Ons het die program reeds ontvang en kan nou in verootmoediging begin bid vir ’n honger na die woord van die Here, ’n ywer en begeerte om te hoor wat die Here wil sê. Ons bid ook vir elkeen wat saamwerk om die Pinkster ’n geestelike belewenis te maak. “Verbly julle, poorte, wees bly eeue- oue deure, want die magtige Koning wil ingaan! Wie is Hy, hierdie magtige Koning? Die Here, die Almagtige, Hy is die magtige Koning. Ps. 24:9 & 10
Vrydag: Geestelike leiers: Kom ons bid uit 2 Thess 1:11 “Daarom bid ons ook vir julle: Mag ons God julle waardig maak vir die lewe waartoe Hy julle geroep het, en mag Hy deur sy krag julle liefde vir die goeie werk van die geloof volkome maak”.
Saterdag: Lofprysing: “Hulle moet die Here loof vir sy troue liefde, vir sy wonderdade wat Hy aan mense doen. Hulle moet van sy grootheid getuig in die volksvergadering, Hom prys in die byeenkoms van die leiers”. Ps. 107:31 & 32. Het u rede om die Here te loof? Doen dit met ’n opregte hart!