Deur : Skriba / May 4th, 2018
Gebedsbulletin 6 Mei 2018
“Die Here sorg vir die lewe van die opregtes en wat hulle besit, sal hulle behou so lank hulle lewe. In die tyd van nood sal hulle nie verleë staan nie, in tyd van gebrek sal hulle genoeg hê” Ps. 37: 18 en 19
Sondag: Verootmoediging: Leef u in in die inhoud van Ps. 37 en kom onder die indruk dat die Here sorg vir die regverdige en die Here bepaal die koers van ’n mens. Plaas in meditasie u vertroue in die Here “want die Here sal u ophelp as u val” vers 24.
Maandag: Pinkster: Die Heilige Gees in beheer: Pinkster is ’n besondere tyd in die Kerkjaar. Ons leef met die verwagting dat daar hierdie Pinkster iets opspraakwekkend met my sal gebeur: U kan maar kom en luister, die Heilige Gees sal u voed met die brood van die lewe tot die mate wat u uself oopstel en gelowig wag. “Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei……” Joh. 16:13.
Dinsdag: Reën: Ja, Dinsdae is nou al ons “reëndag”. Ons mag tog nie nalaat om die Here te dank vir die reën wat die vorige week geval het nie. Ons mag ook vra vir neerslae in die opvang gebiede van ons vernaamste damme. “Dit is nou die tyd om na my wil te vra sodat Ek kan kom en weldade oor julle uitgiet”. Hosea 10:12
Woensdag: Werkskepping: Dit is die verklaarde beleid van die regering om werkgeleenthede te skep omdat dit mense bymekaar bring en versoenend werk. Kom ons bid dat misdaad uitgeroei sal word, dat meer en meer mense in diens gestel word en dat die ekonomie sal groei tot voordeel van elkeen wat hier woon, “…hulle sal tuine aanlê en die vrugte daarvan eet”. Amos 9:14
Donderdag: Hemelvaart: Die hemelvaart van die Here Jesus word in Lukas 24 vanaf vers 50 beskryf en dis goed om te lees dat die dissipels ‘met groot blydskap na Jerusalem teruggegaan het”. Nou dink ons daaraan dat ons onder die seënende hande van Jesus lewe – daarvoor dank en prys ons sy Naam!
Vrydag: Geestelike leiers: Bid asseblief dat ons geestelike leiers daagliks die leiding van die Heilige Gees sal ervaar en dat hulle die gemeente soos Petrus “vol van die Gees” sal bedien – veral in die tydperk van Pinkster en daarna.
Saterdag: Lofprysing: Ons Skrifgebed kom uit Jer 14:22 “Is daar onder die nikswerd gode van die nasies een wat laat reen, wat die hemel sy reën kan laat gee? Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Ons vertrou op U, want dit is U wat al hierdie dinge doen”.