Deur : Skriba / October 12th, 2018
Gebedsbulletin 14 Oktober 2018
“My dae skiet vinniger as ’n naelloper verby, hulle vlieg verby …hulle gaan vinnig by my verby soos papirusbote, soos ’n arend wat afskiet op sy prooi.” Job 9:25 en 26.
Sondag: Verootmoediging: Interessant dat die ervaring van Job so paslik is vir hierdie tyd van die jaar! Dink oor wat u in hierdie jaar nog wil doen en begin met “as die Here se wil daarby is, wil ek nog…” gesels met die Here in u stiltetyd juis hieroor. “Solank ons die geleentheid het, moet ons aan almal goeddoen, veral aan ons medegelowiges” Gal 6:10
Maandag: Herder vir ons gemeente: Ons volhard in gebed vir die proses om iemand in Ds. Jan se plek as herder vir die gemeente te kry. Intussen bid ons vir Ds. NJ wat saam met die leierskorps die gemeente nou en in die tyd na Ds. Jan se vertrek moet bedien. “Van hierdie evangelie het ek dienaar geword, ’n voorreg wat God in sy genade vir my gegee het deur sy krag in my te laat werk” Ef. 3:7
Dinsdag: Reën: Ons praat nou anders oor reën hier in ons kontrei en kan amper nie glo dat daar nog dele is wat bitter droog is nie – kom ons bid dat broodnodige reën ook in die Kleinkaroo sal val. “Inwoners van Sion, julle moet bly wees en juig tot eer van julle God, want Hy het die reën betyds laat kom, Hy het die vroeë en laat reëns soos voorheen gegee”. Joël 2:23
Woensdag: Onderwys: Ds. Lettie het Sondagoggend die tema: ’ Wie gaan ons kinders van die Here leer?’ in Moedergemeente hanteer. Ek twyfel nie daaraan dat sy ’n woord van bemoediging het maar ook ’n oproep tot ouers en ander rolspelers in die lewe van kinders om die opdrag van die Here nie na te laat nie. Ons ondersteun haar voordrag in gebed tot God en vra die Here om ons rol in die opsig met oorgawe te speel..
Donderdag: Die Suid Afrikaanse Regering: Here, ons God, in ons land ondervind ons ongekende woelinge op politieke gebied en ook in ons kerk. Mense sukkel om die sin agter alles te vind. Ons bid dat U aan die nuwe president wysheid sal gee om regverdig te regeer, rus die lede van sy kabinet toe om opreg en eerlik die volkshuishouding te bestuur. Here ons bid vir gelowiges wat as besluitnemers in die regering funksioneer dat hulle U leiding elke dag sal ervaar, dat hulle in afhanklikheid van U sal optree en die gesindheid van Jesus sal demonstreer. “……want die owerheid is ʼn dienaar van God tot jou beswil” Rom13:4
Vrydag: Geestelike leiers: Ons bid dat die Here aan ons geestelike leiers begrip en ʼn fyn aanvoeling sal gee om in hierdie dae van onsekerhede in ons land met wysheid, insig en vrymoedigheid die boodskap van Jesus te verkondig. “Julle moet daarvoor op julle hoede wees. Ek het alles vir julle voor die tyd gese”. Markus 13:22
Saterdag: Lofprysing: Uit Ps. 56 sê ons vir die Here dat ons vertroue net in Hom lê: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. My God, ek prys u woord en ek stel my vertroue in u, ek is nie bang nie. Wat kan ’n blote mens aan my doen?”.