Deur : Skriba / November 10th, 2018
Gebedsbulletin 11 November 2018
“Maar ons leef in die verwagting van ʼn nuwe hemel en ʼn nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers” 2 Pet 3:13
Sondag: Bankgebed of wydingsgebed voor u stiltetyd. Vra die Here om die verwagting waarna Petrus hierbo verwys, by u te vestig sodat u met hoop kan lewe(Heb 6 en 10) en aan ander die boodskap van hoop kan verkondig. Bid ook vir Ds. Jan wat vandag vir Wellington-Oos totsiens sê en hom voorberei vir ’n nuwe tydvak in sy lewe by ’n ander gemeente.
Maandag: Matrieks en eksamen. Die media probeer elke dag nou aandui hoe dit met die vorige dag se vakke gegaan het en of dit billik, maklik of Grieks was! Laat dit u
herinner om vir hulle te bid, indien u iemand ken gaan besoek hulle en toon
belangstelling. “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond” Ps 119:103 “So smaak die kennis, die wysheid ook; as jy die gekry het, het jy ʼn toekoms, en jou hoop sal jou nie ontneem word nie” Spr 24:14
Dinsdag: Mense sonder hoop. Uit nasionale gebedsbriewe blyk dit dat talle mense met finansies en ander probleme sukkel en net nie uitkoms sien nie. Kom ons bid vir mense wat om een of ander rede hoop verloor het en moedeloos geraak het. Die aarde en alles daarop behoort aan die Here en Hy kan uitkoms gee in die donkerste omstandighede, bid daarvoor en herinner die Here aan sy beloftes. “Geloof sy die Here! Dag na dag dra Hy ons! God is ons hulp!” Ps 68:20
Woensdag: Boere wat oes. Ons het kwaai winde beleef in die afgelope week en oesskade kom oral voor. Kom ons vra die Here om gunstige omstandighede te skep sodat oeste ingesamel kan word en die ekonomie daarby kan baat. “Maak my(hulle) ʼn voorbeeld van U goedheid. U, Here, is ʼn barmhartige en genadige God.” Ps 86: 17 en 15.
Donderdag: Jongmense: Vanoggend by ’n Bybelstudie groep vertel iemand van hoe vrylik dagga nou in Wellington beskikbaar is, “maar” Sê hy: “Jy kry nie meer skoon dagga in die vallei nie, alles is besmet met sterker middels!” Bid asseblief vir die
beskerming van ons jongmense, hulle is geweldig blootgestel aan die euwel. “Voor hulle nog roep, sal Ek antwoord, terwyl hulle nog praat, sal Ek hulle gebed verhoor”. Jes. 65:24
Vrydag: Geestelike Leiers: Ons is goed bewus van die ekstra las wat Ds. NJ nou sal dra tot die Here ons seën met ’n ander herder. Bid asseblief vir hom en sy gesin, maar ook vir elkeen wat hom, op een of ander wyse, sal bystaan in die tyd. “U het my van jongs af onderrig o God en ek getuig nou nog van u kragtige dade!” Ps. 71:17
Saterdag: Lofprysing: Uit Ps. 71 – …”op U, Here, het ek van jongs af vertrou. U is my hulp van my geboorte af ,….U loof ek gedurigdeur.. ek besing u lof en u roem
gedurigdeur!”