Deur : Skriba / September 19th, 2019
Gebedsbulletin 22 September 2019
“Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg” Ps. 37:5
Sondag: Verootmoediging: Die inligting oor die rampdroogte wat groot dele van ons land in ’n wurggreep beet het, gryp ons aan die hart. Hoe praat jy die mense moed in? – nie net deur te gee nie. Op ’n manier moet ons hulle oortuig dat hulle swaarkry gedeel word deur familie oor grense heen en dat die Almagtige daarvan weet. Dink daaroor, praat met die Here oor die saak en stel vas wat u rol hierin is. “Is daar onder die nikswerd gode van die nasies een wat laat reën, wat die hemel sy reën laat gee? Is dit nie U wat dit doen nie, Here ons God? Jer. 14:22
Maandag: Plaasmark: Oor ’n bietjie meer as ’n maand vier ons fees! U sal die basaarlys vanaf u vat-5 verteenwoordiger ontvang. Vra die Here wat u daarmee moet maak en doen dit met vertroue, die Here sal sorg! Ps. 34:12 “Kom, kinders, luister na my! Ek wil julle leer hoe om die Here te dien”.
Dinsdag: Reën: Ons is so bly wanneer ons hoor iemand sê dat hy op sy plaas in die Karoo reën gehad het! Dit is mos wat ons vra en glo dat dit ons Here was wat gehoor en gegee het. “Ek(die Here) wil dit weer in die land laat reën”. En “Toe hulle nog praat, het die lug donker geword van die onweerswolke; die wind het opgekom en groot reëns het uitgesak”. 1 Kon 18:1 en 45
Woensdag: Geregtigheid: Omdat reg en geregtigheid by die mens ontbreek, ontbreek die liefde, trou, reg en vrede wat God gee, ook by die mens. Ons kan net in afhanklikheid bid dat die sin vir reg en geregtigheid weer in ons samelewing gevestig sal raak sodat ons in vrede met mekaar en met God kan lewe. Neem die volgende as belofte van God: “Hy sal sy reddende mag in ons land openbaar. Liefde en trou sal mekaar ontmoet, geregtigheid en vrede sal mekaar onhels; trou sal uit die aarde opspruit, geregtigheid sal uit die hemel afkom”. Ps. 85:10 – 12
Donderdag: Regering: Maak asseblief voorbidding vir die regering ’n vaste item op u gebedslys, hulle het dit nodig en God gebruik hul om sy kinders te beskerm. “Maar dit is tot voordeel van ’n land in sy geheel dat almal aan die koning onderdanig is. Pred 5:8..(en vir hom bid).
Vrydag: Geestelike Leiers: Ons praat oor die droogte en bid vir die boere – dis reg so, maar midde-in die krisis staan die leraar(geestelike leiers) in daardie gemeenskappe as steunpilaar. Baie van hulle is jong predikante en die las is oorweldigend. Bid innig vir hulle en hul families, pleit by die Here om vir hulle ’n beskutting te wees. “Almagtige God, kyk tog uit die hemel af en ontferm U weer oor hierdie wingerdstok, neem hom weer onder u sorg. Hou u hand oor die mense wat deur U uitgekies is………..” Ps. 80:15 en 18
Saterdag: Lofprysing: Uit Ps. 56 sê ons vir die Here dat ons vertroue net in Hom lê: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. My God, ek prys u woord en ek stel my vertroue in u, ek is nie bang nie. Wat kan ’n blote mens aan my doen?”.
@@@