Deur : Skriba / November 1st, 2019
Gebedsbulletin 3 November 2019
Ps 46 : 11 & 12 “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ʼn beskutting”.
Sondag: Gesinsverhoudings. Lees Ps 128 en dank die Here vir gesinsbande en gelukkige verhoudings met mense wat geestelik opbouend is. “Dit gaan goed met elkeen wat die Here dien”.
Maandag:
Matrikulante en ander. Die matriekeksamen bly steeds ʼn belangerike mylpaal in elke skolier se lewe en kom ons dra ons matrikulante spesifiek, en ook die ander wat besig is met eksamen aan die Here op. Vra vir rustigheid, helderheid van begrip, ware toewyding aan hul studies en goeie resultate as vrug daarop. “God het aan die vier jongmanne verstand gegee en insig in alles wat geskryf is, ook wysheid” Dan 1:17 en vers 20: “In enige saak wat wysheid en insig vereis….was hulle tien maal beter as al die towenaars en voorspellers in sy hele koninkryk”.
Dinsdag: Reën:
My suster stuur vir my ’n video van reën wat in Loeriesfontein val – die onderskrif “’n fontein begin met ’n druppel water!” hulle meet 9mm op die plaas en 11mm in die dorp – die mense is soooo bly! Die boer sê” Dit reën nie kos nie, maar dit reën moed, hoop, ’n vooruitsig na beter tye en sommer net dankbaarheid”. Terwyl u vra dat die droogte gebreek sal word deur meer gereelde reën, dank ons Hom vir die seëninge.
Woensdag: Geweld in Wellington:
Ons wil nie altyd op die negatiewe fokus nie, maar dit gaan regtig woes in New Rest – daar waar ons Little Flowers kleuterskool staan. Die bestuurder van J.C. Travel sê “Mnr. verlede naweek weer drie doodgeskiet. Daar gaan nie ’n nag om sonder geweerskote nie. Dis gangsters!” Ag, hoe sal daar weer rustigheid kom? Net maar die Here kan hier uitkoms gee. Bid asseblief vir die inwoners hier en vra vir vrede en rus. “Bedaar en erken dat Ek God is, hoog bo die nasies, hoog bo die aarde. Die Here, die Almagtige, is by ons, die God van Jakob is vir ons ʼn beskutting”. Ps. 46: 11 en 12.
Donderdag: Kerkraad :
Om as lid van die Kerkraad te dien is ’n voorreg, maar ook ’n verantwoordelikheid. Hiervoor moet u asseblief vir die Kerkraad bid vir ywer in die werk en toewyding in diens van ons Here. “Mens, Ek het jou die wag vir Israel gemaak. Wanneer jy by My die opdrag ontvang, moet jy hulle namens My waarsku”. Eseg. 33:7. Bid asseblief ook vir Ds. Annelet wat onder beroep staan, Springbok toe.
Vrydag: Geestelike Leiers:
Ons dank die Here vir die geestelike leiers wat Hy aan ons gemeente toegedeel het en ons bid dat Hy hulle voortdurend sal lei, dat hulle sy wil, sal ken en sy woord in gehoorsaamheid en in waarheid sal verkondig. “Ek het toe as profeet opgetree soos ek beveel is….” Eseg. 37:7
Saterdag: Lofprysing:
Uit Ps. 56 sê ons vir die Here dat ons vertroue net in Hom lê: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. My God, ek prys u woord en ek stel my vertroue in u, ek is nie bang nie. Wat kan ’n blote mens aan my doen?”.
Huisgeloof – 3 November 2019
Die doop
Gesels saam
- Gesels ‘n bietjie oor die doop wat Sondag in die erediens plaasgevind het. Wat het by jou/julle opgeval?
- Kan iemand iets onthou oor iemand in die gesin se doop? Deel dit met mekaar.
Lees saam
Lees Kolossense 2:12-13 saam uit ‘n maklike vertaling of kinderbybel.
Dink saam
Die doop is die teken en herinnering van hoe ons deel het aan Christus se dood en opstanding, en ons nuwe lewe saam met Christus.
- Wat beteken Jesus se kruisdood en opstanding vir jou?
- Wat kan ek doen om vergifnis by Jesus te probeer verdien?
- Wat kan ek doen om Jesus se liefde te verdien?
- Maak die feit dat party mense nie gedoop is nie hulle minderwaardig, of minder ‘n kind van God?in hierdie teks en hoe kan dit ons help om anders oor onsself te dink?
Bid en Doen saam
Maak ‘n bakkie vol water, en laat elke persoon eers hulle vingers daarin natmaak om hulle aan hul doop te herinner. (As iemand nie gedoop is nie, moenie bekommer nie, en laat hulle net aan die doop dink.) Laat elke persoon dan Jesus dank vir hul genade in hul eie woorde.
Kinderfokus
As almal in die gesin gedoop is, skryf almal se doopdatums neer en vier dit deur ‘n kers aan te steek, en dalk selfs ‘n koek! (Indien iemand nie gedoop is nie, is daar niks wat daardie persoon keer om gedoop te word nie, al het die persoon nie gelowige ouers nie. Vier dat die persoon steeds ‘n kind van God is, met ‘n kers en dalk ‘n koek.)