Deur : Skriba  /  February 21st, 2020

Gebedsbulletin 23 Februarie 2020

Wanneer u hierdie gebedsriglyne volg, meld u aan vir diens by die hemelse   koninkryk.

“Wanneer Ek met julle handel soos die eer van my Naam dit vereis…..sal julle besef dat Ek die Here is. Dit, Israel, sê  die Here my God”. Eseg. 20:44

Sondag: Verootmoediging: Die Naam van die Here is ’n sterk vesting en beskutting volgens die psalmdigter. Wanneer u daaroor nadink, kom u tot die besef, hier kan ek skuil en hulp vra, maar u meld ook hier aan vir diens. “Ek is begaan oor my heilige Naam……. so sê die Here: ‘Dit is nie ter wille van julle dat Ek optree nie.. maar ter wille van my heilige Naam” Eseg. 36:22

Maandag: Ontdek jou Gawes kursus: Wat ’n besondere geleentheid om vas te stel wat die Here in u belê het om diens te doen in sy koninkryk! Bid vir positiewe uitkomste en in die gemeente ’n ongekende ywer om die Here te dien. “Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ’n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie , maar Ek het niemand gekry nie”. Eseg. 22:30

Dinsdag: Reën: Op die weerprogram blitz die donderdweerwolkies hier van Upington se kant af en ons hoop so dit wil net bietjie meer Westekant toe skuif! Chrismari uit Wes-Boesmanland skryf dat die weer mooi opbou, maar dan verby trek.  Kom ons vra dat die Here ook hier sal handel soos die eer  van sy Naam vereis en dat die boere nie moedeloos sal raak nie. “Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag op God wat my red. My God sal my gebed verhoor” Miga 7:7

Woensdag: Huis Andrew Murray – Hoofbestuurder: Die Beheerraad van HAM vra u voorbidding vir die aanstel van ’n bestuurshoof. Ons vra dat die Here iemand sal roep en toerus om die diens ter wille van 152 kinders hier en 70 in Moorreesburg te verrig.      “Toe het ek die Here hoor vra:’ Wie kan Ek stuur?” Jes. 6:8

Donderdag: Druiweoes: Ons sien die parsbakke heen-en-weer- hardloop en ons besef dis die vrug op die arbeid. Ons bid stilweg dat die Here die oes sal seën, die werkers vir hulle families sal kan sorg en landbou in die algemeen die ekonomie sal voed. “….steek die sekel in, want die oes is ryp, kom trap,  die parskuip is vol, die wynkuipe loop oor.” Joël 3:13

Vrydag: Geestelike Leiers: Mag die gebed van Miga van Moreset, ook die gebed van ons geestelike leiers wees: “Ek, daarenteen, het baie krag, ek het die Gees van die Here, ’n sin vir reg en die moed om….” Miga 3:8

Saterdag:  Lofprysing: ‘Inwoners van Sion, julle moet bly wees en juig tot eer van die Here julle God, want Hy het die reëns betyds laat kom, Hy het die vroeë en laat reëns soos voorheen gegee”. Joël 2:23

@@@

 

In die Nuus