Deur : Skriba  /  February 28th, 2020

Gebedsbulletin 1 Maart 2020

Kom ons meld aan vir diens. In Maart gaan ons die tema volg: ‘Here breek my hart met wat u hart breek’

“Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming”. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees”. Hosea 2:18(b) en 19

Sondag: Verootmoediging: Kom ons dink aan die goedheid van ons God en dat Hy ons werklik aan Hom wil bind! Ons wil bid ‘Here daar is vir ons niks beter as om aan U gebind te wees nie!’ “Dié dag sal Ek antwoord, sê  die Here. Ek sal die lug antwoord en dié sal die grond antwoord. En die grond sal antwoord met koring, wyn en olie….” Hosea 2:20

Maandag: Siekelys in Gemeentebulletin: Terwyl ons vir die siekes op die lys bid, kan ons dalk ook ’n poging aanwend om een of meer van hulle te besoek – dit hou soveel seën vir die sieke en vir die besoeker in! “Die mense het toe die siekes met allerhande kwale en pyne, …..na Hom toe gebring en Hy het hulle gesond gemaak” Matt. 4:24(b).

Dinsdag: Reën: Daar het oënskynlik ’n rustigheid (en gelatenheid) oor die droogte gekom,  so asof dit maar so moet wees.  Intussen gee sommige boere moed op en trek weg. Volhard asseblief in gebed en smeek om genade vir die gebiede waar dit nog baie droog is. Vra dat die Here in sy almag, boere met moed, vertroue en geloof sal toerus,sodat hulle sal vasstaan. “Julle is die sout vir die aarde; julle is die lig vir die wereld. Laat julle lig so skyn…” uiit Matt. 5:13…16

Woensdag: Bejaardes:   Ons opdrag is om vir bejaardes te sorg “Wees gehoorsaam aan jou vader en moeder, jy is hulle kind; en moet hulle nie verag as hulle oud geword het nie” Spr. 23:22. Daar is ’n hele aantal bejaardes in ons gemeente en by Silwerkruin, u kan oorweeg om kennis te maak, een of meer te besoek en vir hulle behoeftes te bid. “Hy, Jesus, het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak” Matt. 14:13

Donderdag: Leierskap in die land: Profete in die OT spreek gereeld die leierskap van Israel aan oor hul toewyding aan die Here. Wanneer die leierskap na die wil van die Here vra, sorg die Here vir die hele volk. Kom ons bid dat dit in SA ook sal gebeur. “Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ’n gees van welwillendheid en van berou…”. Sag 12:10

Vrydag: Geestelike Leiers:So het die Here my God gesê: Gaan wees ’n herder vir my slagskape…Ek het toe ’n herder geword…..Ek het twee kieries gevat, die een Vriendelikheid genoem en die ander Vereniging….”. Mag God ons geestelike leiers toerus met wat hulle nodig het!

Saterdag: Lofprysing:Ek het in U bly glo, selfs toe ek gedink het dit is klaar met my en toe ek in vertwyfeling besef het, ek kan op geen mens staatmaak nie.  Hoe sal ek die Here vergoed vir al sy weldade aan my?” Ps. 116:10 – 12

@@@

 

In die Nuus