Deur : Skriba / March 13th, 2020
Week 15 – 21 Maart 2020 (Sendingtaak)
Ons meld aan vir diens, ‘Here breek my hart met wat u hart breek’. Die goeie nuus vir mense wat ‘stukkend en seer is’. In voorbidding moet on sook oorweeg ‘Wie werk vir Wie?’
“Ek gaan jou aan My bind deur my weldade en my goeie sorg, deur my liefde en my ontferming”. Ek gaan jou aan My bind deur my onverbreekbare trou sodat jy aan My, die Here, toegewy sal wees”. Hosea 2:18(b) en 19
Sondag: Verootmoediging: ‘Ek wil kom stil word hier aan u voete, Ek wil kom hoor wat U vir my sê,(want soveel mense sterf sonder Jesus)….. Hier staan ek voor U, net soos Jesaja…….
Die Here Jesus sê self die oes is groot, maar die arbeiders min – Dink na oor u rol en vra die Here waar en hoe Hy u wil gebruik met die gawes wat Hy aan u persoonlik toegedeel het. “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees….” Hand 1:8
Maandag: Madagaskar/Malawi/Mosambiek: Die Volschenks in Madagaskar werk veral onder kinders en vra voorbidding vir die opleidingsprogramme van Maart/Julie/Aug. 2020. In Malawi is ons betrokke by ’n wye verskeidenheid bedieninge en ondersteun die teologiese skool. In Mosambiek is Ds. Khoza betrokke by uitreike, kerkplanting en dissipelmaking. U gebede maak ’n verskil en bring vrug op hierdie arbeiders se werk. “As medewerkers van God doen ons ’n beroep op julle….. Kyk nou is die regte tyd…” 2 Kor. 6:1
Dinsdag: Amos: Bid asseblief vir beter lewensomstandighede van plaaswerkers wat swaar kry a.g.v. armoede; toenemende werkloosheid; alkohol- en dwemmisbruik met die gepaardgaande maatskaplike problem. Vra die seën van die Here op die werk van Edmund en sy gesin. “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom? My hulp kom van die Here wat hemel en aarde gemaak het” Ps. 121: 1 en 2.
Woensdag: Makhathini: Hier – uiters armoede, selfs hongersnood, werkloosheid, maatskaplike probleme soos HIV, TB, alkohol- en dwelmmisbruik, hawelose weeskinders, voorvader aanbidding en invloed van sangomas – bid asseblief dat die Here hierdie uitdagings as geleenthede sal gebruik om sy liefde vir mense deur mense te bewys. “Die Here het groot dinge aan hierdie mense gedoen”. Ps. 126:2
Donderdag: Sendingorganisasies: Ons dink aan die werk van Geopende Deure, Jerigo Mure,Operasie Mobilisasie(OM), INcontext International, Arab Ministries en ander wat die roepstem van die Here gehoor het en strukture geskep het waarbinne medewerkers kan funksioneer. Die Here alleen bewerk die vrug op die arbeid en beskerm die werkers wanneer ons vra. “Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken”. Kol 1:9
Vrydag: Werkers vir die oes: Ons het hierdie week gefokus op die getuienistaak- nou vra ons dat die Here ons gemeente prakties betrokke sal maak in die groot taak en veral in volharding met toegewyde gebed. Maak dit asseblief ’n vaste punt op u gebedskalender. “ons bid; ‘Here sonder u kan die werk nie voortgaan nie, maar met u sal die Christendom bly groei tot eer van u Naam en sal meer en meer mense met blydskap kan lewe”
Saterdag: Lofprysing: “Prys die Here, alle nasies, loof die Here, alle volke, want sy liefde vir ons(almal) is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here!” Ps. 117