GEBEDSBULLETIN

Deur : Skriba  /  October 21st, 2016

“Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou: Ek maak die bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af………” Sefanja 3:17 & 18

Sondag: Verootmoediging:  Dink na oor die goedheid van die Here en dank Hom vir sy liefde en sy beloftes wat in die Bybel vervat is. Dawid sê in Ps. 34:4 “Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys”.

Maandag/Dinsdag: Zambië: ’n mooi storie! Op 18 Okt 2015 het die Zambiese president Zambië aan die Here toegewy. Die landsvlag is gestryk, die sondes van die nasie bely, openlik verklaar dat hulle die Drie-Enige God dien en weer die vlag gehys. Almal het neergebuig en die Here gevra om hul met die Heilige Gees te vervul. Dank die Here vir hierdie getuienis en bid vir die Zambiese president dat hy sal volhard en dat die getuienis oor Afrika uitgedra sal word. Dinsdag kan u bid dat die wetgewende en geregtelike sisteme van die regering hulle aan die leiding van die Heilige Gees sal onderwerp en dat die nasie stil en rustig kan lewe.         “Die Here is goed vir die wat op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra”. Klaagl. 3:25

Woensdag: Bybelvertaling en Verspreiding: Die Bybelvereniging wêreldwyd het gevind dat die verspreiding van Christelike lektuur en Bybels skerp toeneem in lande waar die felste vervolging plaasvind. Die hoogste styging was in Sirië, wat tans die grootste humanitêre krisis ter wêreld beleef.  Stygings kom voor in Egipte, Indië, Laos en Nigerië. Loof die Here vir antwoord op gebede van mense wat verlang na ’n eie Bybel en bid vir bekering en toewyding aan die Here. “U woord is die lamp wat my die wegwys, die lig op my pad”. Ps. 119:105

Donderdag: Gemeentefees: Die Gemeentefees is die hoogtepunt in ons jaar. Ons ondervind dit dat mense op die dag groot welwillendheid aan die dag lê en die saamwerk geniet. Vra die Here vir ’n mooi sonskyndag en ’n feestelike, vrolike geleentheid met sukses op die toewyding van werkers.           “Die volk was bly oor hulle gewilligheid, want hulle het die vrywillige gawes aan die Here met hulle hele hart gegee”.1 Kron. 29:9

Vrydag: Geestelike Leiers: Die kerk-leierskap is gedurig onder druk  om antwoorde te gee op netelige kwessies aan ’n kritiese samelewing. Die media in al sy vorme reageer vinnig en dikwels met venyn op uitsprake van kerkleiers. Kom ons vra die Here om ’n gees van verdraagsaamheid en respek te vestig in die harte van alle mense en genade aan leiers om hul rol tot eer van sy Naam te speel. “Ek wil luister na wat God die Here sê, want sy woord bring vrede vir sy volk, vir die wat Hom getrou dien”. Ps. 85:9

Saterdag: Lofprysing: “Here, U is genadig en barmhartig en U voed dié wat U dien. U hou u verbond altyd in stand. U laat u volk die krag van u dade ervaar!” Uit Ps. 111:4

In die Nuus