Deur : Skriba / April 21st, 2017
26 April
Woensdag: Toelae aan miljoene: Tans ontvang 17,5 miljoen mense meer as R100miljard aan toelae en die meeste hiervan is toegewys tot die voordeel van kinders. Bid dat toelae so gebruik sal word dat kinders daaruit voordeel trek en dat dit nie deur ouers en familielede misbruik sal word nie. “Wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel? Hy het ’n kindjie nader geroep….” Matt. 18:1 en 2
27 April
Donderdag: Regering: Volgens die media dreig konflik tussen staat en die kerk te intensifiseer. Dit is n verloor/verloor situasie met die Naam van die Almagtige wat oneer aangedoen word en die land wat op ekonomies en sosiaal maatskaplike gebied skade ly. Ons vind reeds dat sommige denominasies politieke leiers die platvorm bied om politiek te bedryf terwyl ander hierdie praktyk veroordeel. Kom ons bid dat die Kerk van Christus onder die leiding van die Heilige Gees met vrymoedigheid leiding kan gee oor die bestuur van die volkshuishouding en die staat die leiding sal volg. “Ons wil nie die guns van mense prober wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets”. 1 Thess 2:4
28 April
Vrydag: Geestelike Leiers: Ds Jan is met verlof tot 14 Mei – ons bid vir hom n aangename rustyd toe. Ds NJ behartig die uitdagings op geestelike gebied in die gemeente – ons bid vir hom die krag en leiding van die Heilige Gees toe. Intussen is ons in die finale rondte van die aanstelling van n kinderwerker – vra die Here om hier duidelike leiding te gee en insig, wysheid en vermoë van onderskeiding aan die suksesvolle kandidaat. Lees weer wat Jesus oor kinders sê in Matt 18.
29 April
Saterdag: Lofprysing: Lees weer die aanhefteks en die oordenking by Sondag en verbly u in die voorreg om deur die soenverdienste van Christus “kind van God” te wees.
30 April
Jesaja skryf in hoofstuk 6:1 “In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien” en toe vertel hy sy storie. Elkeen van ons se storie, saam met God, het een of ander tyd begin. Dink daaroor na en kyk of jy ook ’n storie het om te vertel.
Sondag: Verootmoediging: Die Gees van gebed hang oor S A en nog nooit het soveel mense so eendragtig gevra vir God se ontferming oor ons land nie. Verootmoedig u voor die Here met sondebelydenis en lofprysing, want net Hy is dit waardig! “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid”. Jes. 6:3
1 Mei
Maandag: Werkersdag: Op hierdie dag dank ons die Here vir die werkers wat ’n sinvolle bydrae lewer tot die sukses van die ekonomie. Ons bid ook vir die miljoene wat werk soekend is en graag ook ’n bydrae sou wou lewer. Bid vir alle huishoudings wat spanning beleef oor ’n “broodwinner” wat werkloos is. “Mense wat opreg lewe, geniet die guns van God” Spr. 14:9
2 Mei
Dinsdag: Reën: Daar word ’n kettinggebed sirkuleer vir reën in die Wes-Kaap- ons sluit aan en vra dat die Here die wolke bymekaar sal roep (Job 38:25)stortreën in die opvanggebied van ons damme sal stuur en die aarde met deurdringende reën sal deurweek. “Wie het vir die stortreën ’n pad oopgekap en vir die donderwolke hul koers bepaal…. Het die reën ’n vader? Wie het die doudruppels in die wêreld gebring?” Job 38:25 en 28.
3 Mei
Woensdag: Egipte – daar waar die Kind van Bethlehem ook gaan skuil het: Die gelowiges in Egipte kry swaar, die vervolging verskerp en hul word hul bestaansreg ontneem. Bid vir Egipte dat God weer sy goedheid oor die land sal uitstort en die belofte in Jes. 19:25 waar sal word: “Die Here die Almagtige sal hulle seën en sê: Geseënd is my volk Egipte, geseënd is Assirië wat deur My geskep is en geseënd is Israel, my eiendom”.
4 Mei
Donderdag: S A Rommelstatus: Ekonome meen dat ons sal sukkel om hieruit te groei en dit tref almal sleg! Die Here is ons toevlug en daarom kan ons die leiers in die ekonomie aan Hom opdra en vra dat Hy hulle met wysheid sal toerus. Bid dat werkskepping sal slaag sodat mense sal kan eet. “Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou...” Ps. 33:18
5 Mei
Vrydag: Geestelike leiers: Wanneer ek Kol 4:2 – 5 lees dan kom ek onder die indruk van die verantwoordelikheid van geestelike leiers in die gemeente. Hulle vra: “Bid dat God vir ons ’n deur vir die woord oopmaak….bid dat ek(ons) dit duidelik sal verkondig soos dit my(ons) opgelê is”.
6 mei
Saterdag: Lofprysing: Lees asseblief Ps. 111 aandagtig deur ……”Die werke van die Here is groot…!”