Deur : Skriba / May 12th, 2017
Hierdie gebedsriglyne kom uit Jeremia 11, 12 en 13 met aanhefteks: “So sal Ek die belofte bevestig wat Ek met ’n eed aan julle voorvaders gemaak het, dat Ek aan hulle ’n land sal gee wat oorloop van melk en heuning, soos julle dit vandag het!”
Sondag: “Ek het julle voorvaders voortdurend vermaan, vandat Ek hulle uit Egipte gebring het..” Ons bid: “Here dankie dat u vermaning nog nie opgeraak het nie, maar dat u eerder u beloftes bevestig as om ons te straf – hoor ons as ons vir ons en ons volk vergifnis vra op grond van die soenverdienste van ons Here Jesus”.
Maandag: “Here, Almagtige, regverdige Regter, wat hart en verstand toets ……ek het my saak aan U toevertrou”. Here daar is soveel onreg in ons land dat ons maklik moed kan verloor, maar dankie dat U steeds regeer en ons beskuttting is(Ps. 46). Skep vir my ’n hart vol ootmoed vir U, vertroue in U en deernis/omgee vir my naaste.
Dinsdag: “Hoe lank moet die land droog lê, moet al die plante van die veld verdor? Die diere en die voëls vergaan oor die boosheid van die inwoners van die land …” Here, Almagtige en lankmoedige Vader van die Here Jesus en deur Hom ook van ons, wees ons en ons verdorde land genadig en skenk milde reën oor die land en stortreën oor die opvanggebiede van ons damme. Dit is net U wat dit kan doen!
Woensdag: “Die Here antwoord Jeremia” Here laat ons u stem duidelik hoor soos wat U dit op verskillende maniere aan ons rig. Gee ons ’n oop verstand sodat ons kan verstaan en oop harte sodat ons toegewyd u wil, sal doen. U is vol genade en liefde en U sien gou af van die kwaad, wees ons genadig en stort u seën oor ons en ons land uit!
Donderdag: “Soos ’n gordel stewig vas is om die lyf van ’n man, so het Ek al die mense van Israel en Juda aan my vasgemaak, sê die Here”. Here hou ons ook so vas en beskerm ons teen aanslae van die bose. Aan U behoort die krag, majesteit en eer en van U betuig ons ons afhanklikheid tot in ewigheid.
Vrydag: Ef. 6:19 is treffend op ons geestelike leiers van toepassing: “Bid ook vir my dat wanneer ek preek, God my die woorde gee dat ek die geheimenis van die evangelie met vrymoedigheid bekend maak”. Dan ook die moed om te verkondig soos dit hulle, deur die Gees, hulle opgelê is.
Saterdag: Lofprysing: “Ek aanbid U as die enigste God wat vir ewig leef. U. het geen begin of einde nie. U openbaar Uself aan mense soos U wil, U is die enigste God wat U kan openbaar en ons loof U vir die vreugde en vrede wat ons in U kan vind”.