Deur : Skriba / September 13th, 2015
Job 23:10 “Hy ken my pad; as Hy my toets, is ek suiwer soos goud.”
‘n Huismamma sonder skoene
Huismammas met babas en peuters dra nie skoene nie. Jy borsel jou tande en kam jou hare (vinnig). Dan begin jou dag. Tussendeur kindertjies aantrek en papgee en wasgoed ophang, probeer ek ‘n gesprek voer met ons Klara-hond sodat sy nie afgeskeep voel nie. Ek sluk ‘n beker koffie en beskuit af, sonder om dit eers te proe.
Teen namiddag, na tee en Mariebeskuitjies op die gras, nooi ek ons peuter en baba vir ‘n stappie. Ek trek haar skoene aan en wil dan in die pad val. “Mamma skoene?” vra sy met ‘n fronsie. Dan besef ek: die dag staan einde se kant toe en ek was heeldag kaalvoet.
En dis heeltemal oraait, want Jesus kyk genadiglik nie na ons skoene nie.
Sien, ‘n huismamma het ook nie mooi goedversorgde voete en keurig geverfde naels nie. Huismammas het nie geld of tyd vir pedikuurs nie. Jy koop goedkoop cutex by Dischem en verf jou naels tuis, terwyl jou baba slaap en jou peuter bysit en smeek om ook haar naels self te verf.
Jesus kom ontmoet jou daar waar jy is, sonder skoene. Dikwels ook sonder energie en geduld. Hy verstaan dit alles, want Hy het jou immers gemaak. Jou naam staan in sy handpalms en hy weet selfs hoeveel hare op jou kop is.
Hy ontmoet ons dikwels daar waar ons dit die minste verwag – dalk die voëltjie wat vriendelik vir jou kom sing in die boom by jou kombuisvenster. Of jou kind wat haar arms om jou nek gooi en haar liefde verklaar. Dalk is dit net die glimlag van ‘n vreemdeling op straat, of die reuk van ‘n blommetjie in jou tuin. Hy is dáár. Moenie die oomblikke misloop nie!
Hy is absoluut mal oor jou, skoene of te nie!
@@@